Senwes Scenario August / September 2019 | Page 49

GARDENING | TUIN Dis heerlike Lente Deur Elize Botha Agricol: Tuinboukundige D is weer heerlike lente en almal staan sommer weer met ’n huppel in die stap op! Daar is niks so lekker soos ’n pragtige tuin om ’n nuwe seisoen op te vrolik nie. Vir die van ons wat eerder bietjie wou inlê as om tuintoerusting in die winter te diens, is daar ’n lekker lang lys takies wat voorlê. Lente is die perfekte tyd om jou grassnyerlem te laat skerpmaak, jou snoeiskêr af te stof, daai ou verbleikte tuinbankie ’n nuwe baadjie te gee, nuwe plantjies te plant en beslis nuwe beddings voor te berei. Voordat enige nuwe plantjies geplant word, is dit belangrik om deeglike beplan­ ning te doen. Besluit met watter kleurske- ma en uitleg jy die nuwe seisoen wil aanpak en kies plante van verskillende teksture en skakerings om te inkorporeer. ’n Handige wenk is om by drie kleure te bly (behalwe die vanselfsprekende groen) en dalk wit in te werk vir ekstra diepte. Skep dan ook ’n fokospunt met jou gerestoureede bankie of ’n kalmerende fontein. Wanneer jy op jou nuwe beddings se uitleg besluit het, kan jy ge­noeg kom- pos inwerk om te verseker dat jou grond gesond is. Dis nou ook ’n goeie tyd om eenjarige somerblomme soos kosmosse, sonne- blomme en gousblomme se saad in saailaaie te saai. As jy hou van iets nuuts probeer, neem steggies van jou laventel- en daisy-bosse. Daar word dan ook nie verniet na ‘spring cleaning’ verwys nie... sny siek, beskadigde en dooie takke van bome af. Snoei en dun jou somerblommende strui­ ke soos rose en hydrangeas en onthou ook om jou jong boompies te stut teen die wilde winde wat die tyd van die jaar waai. Onkruid kan nog goed raakgesien word op die kort grasperk, so maak seker dat jy hulle uithaal voordat dit groot word en ’n probleem word. Indien jy een van daai mense is wat mal is oor die somer omdat jy nie ’n lekker slaai kan weerstaan nie, is nou die tyd om jou groente en kruie te begin saai. Saai vinniggroeiende eenjarige kruie soos roket, vinkel, koljander en ook ander soos grasuie, pietersielie en basieliekruid. Saai dan ook komkommers, tamaties, groenboontjies, rooi- en groen rissies, pampoen, beet en sweet corn. As dit nog bietjie koud in jou area is, kan jy die saad eers in saailaaie saai en saailinge later in warmer grond uitplant. Moenie van jou ou getroue grasperk vergeet nie! Gee hom kunsmis soos 2:3:4, 3:1:5 of 6:3:4 om groei te stimuleer en onthou, dit raak nou warmer so jou plante gaan stadigaan meer water benodig. Vir die van julle wat nog ’n rukkie langer wil binne bly, verpot solank daai orgideë. Geniet die nuwe seisoen en lekker tuin­ maak! SENWES SCENARIO | LENTE • SPRING 2019 47