Senwes Scenario April / Mei 2015 | Page 64

••• KOS VI R D I E SI E L DS. WILLIE BOTHA Nogtans... LEES HABAKUK 3:17-19 OM DIE BEKENDE VERSE 17 TOT 19 IN HOOFSTUK 3 TE VERSTAAN IS DIT NOODSAAKLIK OM AL DRIE HOOFSTUKKE TE LEES. DIE EERSTE TWEE HOOFSTUKKE IS AANKLAGTE TEEN JUDA EN BABEL. H y kla sy eie volksgenote aan vir hulle geweld, onreg, onderdrukking, twis en baklei en, dat daar nie meer reg geskied nie. Habakuk pleit dus om ingrype van die Here. Hierop reageer die Here deur die oordeel oor sy volk aan te kondig. Die Galdeërs of Babiloniërs gaan teen die volk optrek en hulle verower. Die klag teen Babel is dat daar ‘n gebrek aan reg en geregtigheid is. Ook hierdie nasie sal onder die oordeel deurloop. Ballingskap was die grootste ramp denkbaar. Ten spyte van die donker wolk wat oor die toekoms van Juda gehang het, word die grootheid van God in hoofstuk 3 verbeeld. Die ontsagwekkendheid van God word treffend geteken. Hierdie ontsagwekkendheid is belangrik waarom die profeet sy vertroue in die Here kan stel. Dit vorm as’t ware die motivering vir die laaste gedeelte. Die afwesigheid van die vyeboom, wingerd, olyfoes, graan en klein- en grootvee is liggestel ‘n katastrofe. Die vyeboom was behalwe vir sy lekker vrug, ‘n simbool van sekuriteit en voorspoed. Druiwe was ‘n koninklike vrug en die wyn is met feeste en vrolikheid verbind. Olyfolie is soos botter en kookvet gebruik en was ‘n belangrike bestanddeel van die daaglikse dieet. Koring en gars was die belangrikste gewasse wat verbou is en was natuurlik noodsaaklik vir meel en brood. Sonder die diere was daar nie vleis nie en ook nie vervoer nie. In kort sou die afwesigheid van die bogenoemde Israeliete in ‘n toestand van armoede en hongersnood dompel. Dit gaan nie net oor die ontbering van genoemde lewensmiddele nie, maar ook oor die verbeuring van die volk se identiteit. Selfs al sou hierdie ondenkbare tragedie afspeel is daar nog steeds rede om in die Here te jubel. Hy gee nuwe krag. Soos die ribbok of ibex sal hy oor die hoë en gevaarlike terrein kan beweeg. Hoekom sal hy dit kan doen? Die Here my God gee vir my krag. Ten spyte van teenspoed gee die Here krag om deur die menslik onmoontlike te kom. Vertroue in Habakuk handel dus nie oor vertroue in God vir voorspoed nie. God gee ons die krag om deur moeilikheid te kan kom. Om rats en vaardig daardeur te beweeg. Droogte vernietig ook menslik gesproke ons potensiaal om voort te bestaan. Dit takel ons fisies en psigies af. Daar is ook baie ander uitdagings wat die wind van voor maak vir die boer van vandag. Maar dit gaan oor die “nogtans”. Nogtans kan ek in die Here jubel, want Hy is steeds my Here en my God. Want hy sal vir my die nodige voete gee om oor die rofheid van nou te kom. • Vertroue en geloof is nie net geloof en vertroue ter wille van voorspoed nie. • Vertroue en geloof kan ook die krag wees, wat God gee, om deur my moeilikheid te kan werk. • Uiteindelik lê ons waarborg nie in ons eie vermoë nie, maar in God se trou en ontsagwekkendheid. • Droogte, of ander swaarkry, kan ons nie van die bystand van God beroof nie. • Ek sal nogtans jubel...