•••
N UUS
MARIETJIE GROBLER
GOSA-lede trek saam en
hou ‘n gròòt werkswinkel
D
ie jaarlikse GOSA-werkswinkel het op 14 Oktober
2015 by Nampopark plaasgevind. GOSA is die
Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika en sy lede is
verteenwoordigend van die totale graanwaardeketting, insluitend
landboumaatskappye en graanbemarkers, banke, vervoermaatskappye,
asook verskaffers van infrastruktuur, toerusting, berokingsmiddels,
opleiding, laboratoriumdienste, ensovoorts. Die belangstelling
was hierdie jaar uitsonderlik groot en waar die werkswinkel in die
verlede in die Sampisaal plaasgevind het, moes dit noodgedwonge
na die groter Fanie Ferreirasaal verskuif word. Ongeveer 200
verteenwoordigers van 35 maatskappye het die werkswinkel bygewoon.
Die tema was hierdie jaar “Winde van Verandering” en ds
Gerrie Botha van die Hervormde gemeente Viljoenskroon het die
verrigtinge op ‘n gepaste wyse met Jes 41 : 10 as teksvers geopen.
Daarna het Pieter Esterhuysen van Successions gesels oor die rol wat
konflik in besigheid speel en dat dit nie noodwendig sleg is nie.
Chris Lombaard is ‘n ElektrieseIngenieur wat die kwessie van
alternatiewe energie bespreek het. Hy
het verwys na verskeie projekte wat
suksesvol geïmplementeer is, maar
ook gewaarsku dat dit nie so maklik is
om geheel en al onafhanklik van die
energienetwerk te funksioneer nie.
Mikotoksiene kan ‘n groot
probleem raak indien korrekte
graanhanteringsmetodes nie toegepas
word nie en Wiana Louw van die
SAGL het gesels oor mikotoksiene wat
algemeen op die verskillende graansoorte
aangetref word, asook die faktore wat
die voorkoms daarvan verhoog.
Pieter Fourie, bekende Raadgewende
Ingenieur in die graanbedryf, het sy
kennis oor deurlugting kom deel en
verduidelik hoe dit aangewend kan word
om graan te kondisioneer indien die
bestuur van temperatuur en relatiewe
humiditeit korrek toegepas word.
‘n Kwessie wat altyd onder
bespreking bly in die graanbedryf, is
graangradering. Hierdie jaar is meer
lig gewerp op onduidelikhede met
betrekking tot sojaboongradering en
die bespreking is gelei deur Peet van
Heerden van PPECB. Hy het verwys
na regulasies (wetgewing) wat moontlik
in die komende jaar kan verander.
‘n Ou bekende in die graanbedryf
en GOSA-raadslid, Jan de Sousa,
het sy ervaring met betrekking
tot die hantering van oliesade
gedeel. Klem is gelê op korrekte
bergings- en hanteringsmetodes
van veral sojabone. Ontstellende
beeldmateriaal is ook gebruik om
te illustreer wat gebeur indien
korrekte praktyke nie toegepas
word nie en die fisiese graanverliese
wat dan verwag kan word.
Teen die einde van
die werkswinkel het elke
verteenwoordiger opnuut
besef hoe veranderlik die
graanhanteringsomgewing is en
hoe groot die verantwoordelikheid
is wat op elkeen se skouers rus
om die land en die wêreld van
veilige voedsel te voorsien.
SENWES Scenario • Desember 2015/Januarie 2016
23