“ As jy nie iets doen omdat jy lief is daarvoor nie , sal jy nie bereik wat jy wil bereik nie .”
PARYS PEOPLE
Tien vrae aan …
HENCO UYS
Sakeman en atleet
“ As jy nie iets doen omdat jy lief is daarvoor nie , sal jy nie bereik wat jy wil bereik nie .”
Henco Uys is moeilik om mis te kyk . Hy staan amper twee meter lank in sy sokkies . En tog het ek vir soveel jare nie besef dat hy die “ Man ” in “ Candyman ” is nie . Candyman is Parys se gewilde ouwêreldse lekkergoedwinkel in die hoofstraat , reg langs die ewe gewilde Plum Tree restaurant . Dit kan wees dat ek te gefokus was op die Peanut Clusters en die Klapperys . Maar ek vermoed dis omdat hierdie stil , jong man bloot nie vreeslik baie van die kollig hou nie . Op 32 , is hy al vir jare ’ n bekende sportman en gesoute sakeman . Party mense doen eenvoudig meer met die ure in hul dae . Henco is so ’ n mens .
1 . Henco , wat is jou backstory ? Is jy hier in Parys gebore ? In Parys Hospitaal , ja . Maar ek het op die plaas Bloemfontein tussen Vredefort en Viljoenskroon grootgeword . My ouers het eers in my matriekjaar dorp toe getrek .
2 . Hoe op aarde het dit gebeur dat jy op die tenger ouderdom van 15 al ’ n besigheid begin het ? Ek was van kleins af sportmal . Ek dink dit kom saam met grootword op ’ n plaas . Ek en my sibbe was altyd buite aan ’ t speel en kompeteer . Daar was amper nie ’ n sport waaraan ek nie deelgeneem het op skool nie . Boonop was ek nogal goed , hoor . Plaaskinders is mos vreesloos en het gewoonlik goeie hand / oog-koördinasie !
In St . 7 ( vandag se Graad 9 ) het daar egter ’ n curveball na my kant toe gekom wat ek moeilik hanteer het . Ek is met Scheuerman se siekte gediagnoseer . Dis ’ n toestand wat die vertebrale groeiplate in die liggaam in groeiende kinders beïnvloed . Dit veroorsaak abnormaal gevormde werwels . Wanneer die vertebrale groei verby is , hou die simptome op . Maar vir sowat sewe jaar kon ek aan geen sport deelneem nie . Selfs om net die trappe by die skool te klim , was ongelooflik pynlik .
In daardie tyd het ek besef ek moet my kop besighou . Dit is erg wanneer jou grootste liefde – sport – van jou af weggeneem word . Ek en my ma , Sandra , het gesels en ’ n besigheidsplan uitgewerk . En so het ek Candyman op 15-jarige ouderdom begin . Ek sê altyd ek verkoop nie lekkergoed nie , maar memories . Die outydse sweets neem mense terug na ’ n tyd toe alles nog eenvoudig was , en dis vir hulle ’ n heerlike ervaring .
3 . Wat bedoel jy met “ nogal goed ” as jy van skoolsport praat ? Moenie so nederig wees nie , man . ( Lag ) Wel , ek het provinsiale kleure verwerf vir Atletiek , Rugby , Tweekamp en Landloop .
4 . Later , nadat Scheuermans se simptome gewyk het , het jy besluit om as volwassene op atletiek te fokus . Jy het wonderlike suksesse behaal , onder andere ’ n skitterende vierde plek by die Taipei Student Games . Maar vandag help jy ander atlete om hul doelwitte te bereik . Hoe doen jy dit ? Wel , ek is ’ n pasaangeeër en het ook ’ n besigheid genaamd Prolab Recovery , wat onder andere atlete met beserings help om te herstel en te rehabiliteer .
50 Parys Crater Street Mile