Gerhard Steyn en Anaïs Liefdesoorlog
Pret en patriotisme, vriendskap en vreugde, verliefdheid en natuurlik – liefde. Dit alles is kreatief vasgevang in Gerhard Steyn en Anaïs se pas vrygstelde album, Liefdesoorlog.
Dié gesamentlike projek is ’n plesier om na te luister en bestaan uit 12 snitte waarvan vier duette is.
Die liedjies op die album is deur Gerhard Steyn, Stass en Johan Theunissen geskryf en dit is ook die derde album wat Gerhard en Stass saam geskep het.
Liefdesoorlog is ook die eerste album waarop ’n dame saam met Gerhard Steyn verskyn. Die ander stem agter die vier duette op die album is dié van die stralende Anaïs en Gerhard sê haar toekoms in Suid-Afrika is blink.
“Ek glo sy sal een van die topkunstenaars in ons land word. Dit was lekker om haar as nuwe kunstenaar daardie ekstra tree te gee.”
Anaïs is die amptelike Suid-Afrikaanse ambassadeur van LifeLine en Be Your Dream en is besig om op grootskaal vir haarself naam te maak en tree elke maand voor sowat 12 000 kinders op.
Sy is sinoniem met die bemoediging van die jeug van Suid-Afrika.
Saam is Gerhard en Anaïs, net soos dit voor op die album staan, ambassadeurs van liefde.
“Vir my is dit ’n goeie samevatting van die album asook van ons albei se lewensuitkyke was so baie dieselfde is,” voeg sy by.
Liefdesoorlog kry dit reg om jou met liedjies soos Duidelik Soos Daglig en Vrydagaand aan die saamsing te kry. Daar is ’n versameling van opgewekte en rustige liedjies wat sorg vir ’n gebalanseerde, lekker luisterervaring.
Van die liedjies op die album wat veral uitstaan is Een Man Army, Wie’t Gesê: Liefde’s Blind en In vir ’n Pond in vir ’n Pennie.
Vir dié met ’n liefde vir Afrikaanse musiek is Liefdesoorlog ’n móét.
16