Musiek 247 Vol 2 | Page 14

Jan Rhaap beskryf homself as 'n boerseun wat hou van sing en sê dat hy inderwaarheid nié tussen sy liefde vir boerdery en musiek kan kies nie. Sy musiek is net so deel van sy lewe soos die beeste en skape waarmee hy in die Noord-Kaap boer. Jan se pas vrygestelde debuutalbum, Laaste Kans, is ook 'n bewys van sy twee liefdes.

“In die week hou ek daarvan om my velskoene te dra en oor die naweek hou ek daarvan om my mooi skoene aan te trek,” verduidelik die oud-Pretorianer wat 'n graad in landbou het.

Jan het sy hele skoolloopbaan in Pretoria voltooi en aan Tukkies gaan studeer. Deurentyd het die begeerte om te sing en sy eie liedjies te skryf hom bygebly en kort voor lank het hy 'n musiekgroep, Brandweer, saam met 'n klompie vriende gestig. Gedurende dié tyd het hy die musiekbedryf leer ken en besluit om 'n solo-loopbaan aan te pak.

“Ek wou meer gereeld as een keer per maand optree en kon dit nie saam met die groep regkry nie siende dat almal se prioriteite verskil het. Ek kom ook uit 'n musikale familie uit en het gereeld na musiek uit die 70's geluister. Later het ek vir myself gesê: 'Het ek nie ook 'n storie om te vertel nie?'.”

Met Laaste Kans vertel Jan juis sy stories – stories van grootword, van boerseun wees, van soete drome, nuwe horisonne, vriendskap, liefde en wat nog in liedjies soos Grootword In Die Onderdorp, Ek Wonder Nog, Kilometers, Beste Bra en Nuwe Pad. Hierdie “stories”, wat met uitstekende instrumentspel gekombineer word, is 'n wenkombinasie waarna 'n mens van begin tot einde wil luister.

Die album bevat 14 liedjies; 'n bruisende verskeidenheid van treffers vir die pop-rock en country-rock oor. Jan het ook daarin geslaag om 'n nuwe, rockbaadjie vir Kris Kristofferson se Sunday Morning Coming Down aan te trek.

In die ateljee is Jan bygestaan deur vervaardigers Tertius Human en Jan Blohm. “Dit was 'n groot voorreg om saam met uitstekende te kon werk.” Hulle sluit in Bruce Wallace (tromme), Denny Lalouette (baskitaar), Mauritz Lotz (kitaar), Human (kitaar), Blohm (kitaar), Wilmie Bezuidenhout (klavier en hammond) en Hannes van der Walt (sang).

Jan is 'n opkomende kunstenaar wat nie hoef terug te deins vir enige groot name nie. Dié dinamiese boerseun se musiek beloof om wyd en suid 'n treffer van formaat te wees.

Jan Rhaap

14