Gielie sê hul wyne dek die hele spektrum – van dié wat net af en toe ’ n glasie wyn geniet , tot wynconnoisseurs wat iets spesiaal en uniek soek . Doolhof se wyne word gemaak om nou te geniet , maar verouder ook uitstekend .
Johan voeg by dat dit juis Doolhof se hele idee is , en dit geld nie net vir die wyne nie . Die luukse gastehuis is privaat en dié plek om van die wêreld te vergeet , waar die AfriCamps-tente ook luuks en gerieflik is , maar baie meer op gesinne ingestel is . Die restaurant is ’ n lekker saamkomplek vir gaste van buite en as jy langer wil vertoef , is daar genoeg plek om met wyn en peuselgoed te ontspan .
“ Doolhof het nou ’ n baie sterk bestemming- en terroir-fokus . Ons het vier grondsoorte waarin ons baie meer kultivar-gedrewe wingerde vestig en in elke mikroklimaat op die plaas word die geskikste kultivars aangeplant . Danksy proefgate , kies ons die beste plantmateriaal wat daar sal floreer ,” vertel Johan .