Land n Sand Jan / Feb 2014 | Page 36

Foto: Xavier Nagel Ook die plaaseiers is uit dié omgewing. Heerlik handgemaakte bokmelkkase kom van Anysbos op die Botrivier wynroete. Die winkel bied ook ’n verskeidenheid tuisgemaakte konfyte en vele ander fynkos heerlikhede aan. My vonds was ’n yslike bruinbrood – vyf dae se smul aan ’n brood wat nie sy varsheid verloor het nie. Teen R20, ’n gesonde winskopie. Ons is net betyds terug by die tafel vir ons voorgeregte. Die snoek vir die slaai kom al die pad van die Weskus af en Frans het hom self gerook. Dis ’n yslike stuk vir ’n voorgereg – voorgesit met tamatie, avokado, slaai en tuisgemaakte korrelkonfyt. Die Ceasar slaai is ’n Overbergse weergawe met bokkoms. Derde was Koring-rolletjies – kerriekoringslaai in ryspapier bedien met ’n koljanderpesto-vinaigrette. Wat ’n aangename verrassing! Ek vra vir Frans of hy sy resep met my sal deel (kyk regs). Dis sy Ma se koringkerrie resep wat hy aangepas het. Al drie disse was heerlik en uitsonderlik, elk met ’n local kinkel. Vir hoofgereg deel ons die Overbergse lamskotelet met sout-ribbetjies en ’n heerlike aartappelslaai wat biltong, songedroogde tamaties en olywe bevat. Ek wou eers vir die aartappelslaai resep vra, maar ek gaan liewer weer ’n draai maak en probeer om dit uit te pluis – romerig en absoluut heerlik. Mens sou moontlik tuis kon eksperimenteer met ’n weergawe van Skordalia (’n Griekse doopsous met aartappel, knoffel, olyfolie) met ekstra olyfolie om die romerigheid op te tower. Moontlik die enigste skuins noot was ’n diens wat flinker kon gewees het, maar bygesê, ons het redelik laat begin eet, en daar was boonop groot groepe mense aan ander tafels. Gabriëlskloof sien my weer.