kykNET Uitgawe 4 - 2016 | Page 29

60 KN VERSLAG IN GESPREK MINUTE VAN POLITIEKE SWEET As jy wil weet wat in die politiek aan die gebeur is, is KN Verslag In Gesprek die program vir jou. Aan die stuur is Rapport se redakteur, Waldimar Pelser, wat deurtentyd moet koelkop bly. Hy vertel meer. S estig minute. En dís voordat jy tyd aftrek vir die advertensies wat vir die hele gedoente betaal. Sestig minute – dis al wat die KN Verslag In Gesprek-span het. Daarin moet ons ’n week se soms ongelooflike politieke teater afkook tot die essensie en dit dan só verpak dat mense wil aanhou kyk daarna. Kykers is immers bitterlik kieskeurig – net my ouma sal tot die einde kyk as die show saai is. Ons strewe daarna om sestig minute van gehalte-TV voor te sit – propvol feite en insigte, amper soos ’n swaar en vogtige vrugtekoek met lekker baie kersies. Elke minuut moet iets sê, elke vraag en antwoord ’n dans wat slyp aan jou perspektief. PRESIES TWEE JAAR GELEDE het ek my eerste job as anker op TV gekry met die bekend­stelling van Insig op kykNET. Insig is opgevolg deur KN Verslag In Gesprek, ’n program met ’n vinniger tempo, meer gaste, nuwe woema. Anders as aan die heel begin, toe die senuwees my sigbaar verteer het en die doelwit bloot was om kalm te bly, is die vraag waarmee ek en die inhoudsregisseur, Loftus Marais, nou elke Woensdag by die ateljee opdaag dít: Hoe maak ons seker die gaste – so versigtig uitgekies – sê dít wat hulle nie bereid is om elders te sê nie? Hoe dring ons deur tot die kern – wat is die essensie van die konflik op die kampusse, byvoorbeeld? – in ’n onderhoud van kwalik 10 minute? Die feit dat daar hoegenaamd gaste is, is natuurlik ’n wonderwerk, het ek voor my TV-debuut gedink. Hier stap Thuli Madonsela in! Dáár word Gwede Mantashe se politieke neus gepoeier! Hier oorkant my sit Theo Venter op ’n kroeg­ stoeltjie... Dis magies. Toe besef ek dis allesbehalwe ’n wonderwerk. Dis eintlik Marguelette Louw, wat elke week daarvoor verantwoordelik is om die slimste, interes­santste gaste aan te tree. Sy goël met dagboeke en het die wonderlikste oorredingsvermoë. Uiteindelik sit Marguelette en Loftus die program aan mekaar, ons slyp aan temas, eet ’n bietjie... en dan rol die kameras. Tien, nege, agt, sewe... Gaan kyk hier hoe Theo Venter se stoel hom in die steek gelaat het. DIT SOU EGTER ’N FOUT WEES om te sê alles verloop altyd volgens plan. Daar is baie wat kan fout gaan op ’n TV-stel: Ligte kan blaas, gaste kan begin sweet (of glad nie opdaag nie), of ’n kroegstoel kan op ’n kritieke oomblik die gees gee – en die gas gas gee! Hier verwys ek natuurlik na die voorval toe die einste Theo Venter se stoeltjie skielik 20 cm gesak het terwyl die kamera op hom gefokus was... En onthou, dis regstreeks! Theo het die verlaging in sy TV-status met grasie aanvaar; die ander gaste het hulle net-net in bedwang gehou; en ons het die gesprek voltooi. En dalk, danksy dié glipsie, nog ’n paar kykers bygekry. KN Verslag In Gesprek Maandae-Donderdae om 21:30 op kykNET, DStv-kanaal 144 2016 | UITGAWE 4 | kykNET 31