kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 50

Die goeie lewe onder die brug

Deur John-Henry Opperman
’ n Huis onder ’ n brug , gebou van kartonbokse : ’ n Mens verwag ’ n droewige verhaal wat hom daar afspeel . Wat ’ n gawe verrassing as jy stilhou en die inwoner begin uitvra .
50

My kantoor is in Midrand en my huis in Randburg . Dit beteken ek moet , soos derduisende ander slawe , elke dag my weg baan in ’ n slaweslang van motors op die snelweg . In die stadige baan . Tot by die werk .

Een oggend is ek weer douvoordag besig om die N1 te bekruip toe ek ’ n hawelose man gewaar . Reg onder die oorbrug waar jy op die snelweg klim , het hy vir hom met kartonbokse ’ n plek ingerig . Wat ’ n vreemde plek om ’ n nag deur te bring , dink ek so in die stilligheid en kruip verder .
Die volgende dag is hy weer daar , en ’ n week later is ek verstom om te sien hy het rooi grond gebruik om netjiese lyne te maak waarmee sy “ werf ” rondom die kartondose uitgemerk word . Die slaapgoed en seiltjie is netjies opgerol teen ’ n kolossale sementmuur . ’ n Week later staan daar ’ n tent . ’ n Bloue ... Nou kyk , ek ken tente . Ek sien baie van hulle in kampterreine , uitspanplekke waarheen mense oor naweke en vakansies vlug om weg te kom van die stad en die dinge wat hulle keel toedruk . Maar onder brûe langs die snelweg sien ek nie baie tente nie .
Later kan ek dit nie meer uithou nie . Ek móét net weet wat hier aan die gang is . Ek hou stil by die garage , loop tot by die randjie waar motors ver onder my vinnig verby flits ( want soos gewoonlik is almal laat ). Ek kan die tentjie net-net sien . Ek fluit ’ n harde , Vrystaatse natlipfluit . Nog motors suis verby . Nog en nog . Die tent se ritssluiter gly af en ’ n man steek sy kop by die tent uit . Hy kyk-soek rond tot hy my sien . Hy glimlag met ’ n stel wit tande die wêreld in wat my na my sonbril laat vroetel .
Sy naam is Thomas en hy is 43 jaar oud . Die afrit tot by die snelweg , die deel om sy tent én die oprit tot op die snelweg is pynlik netjies .
Dis nie net skoon nie , maar ook gehark . Netjies gehark vir honderde meters van die verkeerslig tot op die snelweg . Soos ’ n wafferse Japannese zenmeester is Thomas elke dag besig om elke blommetjie te versorg , elke papiertjie op te tel en lyntjie vir lyntjie sy plek netjies te hark . En môre doen hy dit weer ... Thomas is skaam . Nie skaam vir waar hy bly of dat hy ’ n tuinier is wat verniet werk nie . Skaam is dalk nie die regte woord nie . Eerder sag . Hy praat sag , hy loop sag en hy lewe baie sag in ’ n klein blou tentjie langs ’ n pad waar dit ongelooflik raas .
Die manne by die BP-garage ken almal vir Thomas . Hy bly al nege jaar in die omgewing , sê een vir my . “ Hy ’ s ’ n goeie man ,” sê ’ n ander , “ maar bitterlik skaam .”
Ek het nou al ’ n paar keer gaan inloer om foto ’ s te neem of ’ n geselsie te maak .
Toe ek hom die laaste keer vra : “ Thomas , is jy gelukkig ?” kyk hy my aan of ek van lotjie getik is . “ Ja , ek is baie gelukkig ,” sê hy en wys weer sy wit tande .
Ek groet , want ek kan nie lank bly nie . Ek is al wéér laat . kykNET | UITGAWE 3 | 2016