kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 47

Fokofpolisiekar Karen Zoid

MUSIEK Van niemand tot iemand

Wie sou kon raai dat Afrikaanse kunstenaars wat eens verguis is , vandag op die hande gedra word . Ons volk , sê Deon Maas , is ’ n vreemde lotjie .

Vandag is dit moeilik om te glo Johannes Kerkorrel was eers ’ n sogenaamde “ alternatiewe ” kunstenaar , een wat ongewild en buite die hoofstroom gestaan het . Toe Bloudruk in 1992 uitgereik is , is “ Halala Afrika ” én “ Somer ” verwerp deur radiostasies soos KFM en Jakaranda – dié soort Afrikaanse musiek was te pop vir die Afrikaanse mark en te Afrikaans vir die popmark .

Sedertdien het Afrikaanse musiek ’ n lang pad geloop , en vandag is dit ’ n groot speler in die plaaslike mark . Party syfers wil dit selfs hê dat Afrikaanse musiek meer as die helfte van plaaslike musiek se verkope uitmaak . Dit beteken ’ n taal wat deur 10 % van die bevolking gepraat word , verkoop meer musiek as al die ander genres – soos kwaito , gospel , hip-hop , tradisionele Zoeloemusiek – saam . Die Afrikaanse mark is sterk , maar die vraag is : Is hy vars ?
Die konserwatiewe aanslag in dié mark kan dalk ’ n weerspieëling wees van die gebruikers van die taal , maar dit sal ook die rede wees waarom die huidige bloeitydperk spoedig tot ’ n einde gaan kom .
Die Vivo ’ s met die gesigte van Willem Windpomp en Siwwe Saartjie teen die kant is al klaar baie minder by ons kunstefeeste , en die plekke waar hulle wel nog opgemerk word , is besig om ál kleiner te word . Dié soort kunstenaars se na-aap-styl en ’ n publiek wat besig is om musikaal slimmer te word beteken daar is ’ n groter aanvraag na musiek van beter gehalte .
Daai doef-doef wat die heupe so laat swaai op ’ n Sater dagaand , is besig om die babelas van Sondagoggend nóg erger te maak .

DEON SE TOP 5 in Afrikaans

Galbraak – Battery 9 Alien Boogie Stuff – Somerfaan Republiek van Zoid Afrika – Karen Zoid Kroeskop Vol Geraas – Churchill Naudé Dinkdansmasjien – Bittereinder
Vanjaar se Ghoema-toekennings is ’ n teken van hoe vinnig dinge besig is om te verander . Francois van Coke het met meer toekennings weggeloop as wat hy in sy arms kon vashou . Die enigste erkenning deur die loop van die aand dat daar nog ’ n ouskoolbeweging is , was die onverklaarbare optrede deur Steve Hofmeyr , skielik weer welkom in die familie omdat iemand voel hy kan dalk nog ’ n kyker of wat trek . Dis mos nou lank genoeg ná sy rassistiese uitlatings dat die bosslaper weer kan terugkom huis toe .
Ons ander “ alternatiewe ” kunstenaar , Karen Zoid is nou nie net ’ n popster nie , maar ook ’ n suksesvolle televisie-aanbieder wat per album ongeveer R4 miljoen in tantième verdien .
Weer eens het die “ alternatiewe ” die hoofstroom geraak . Twintig jaar later . Dit vat die Afrikaanse luisteraar baie langer om gewoond te raak aan ’ n nuwe klank . Die konserwatiewe aanslag van die gehoor en hulle onvermoë om aan te pas by die vinnigbewegende popmark is een van die redes hoekom Afrikaanse musiek so gewild is .
Tyd vergeet die skande dat Kerkorrel se “ Al Lê die Berge Nog So Blou ” verander is na ’ n gay-liefdesliedjie of dat Karen Zoid vir haar gehoor ge-flash het . Dieselfde mark wat destyds geskree het in die briewerubrieke en woedend ingebel het na die radiostasies toe , is nou die mense wat hulle musiek koop .
Ons is voorwaar ’ n unieke groep mense in Suid-Afrika . Dis dié dat ons sulke unieke en diverse musiek maak , al vat dit party van ons ’ n bietjie langer as ander om te besef hoe goed dit nou eintlik is .
47
2016 | UITGAWE 3 | kykNET