kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 29

V ir die perfekte steak moet jy eerstens die beste vleis koop wat jy in die hande kan kry. Met ’n treurige stuk steak kan jy nie veel uitrig nie – al braai jy hom ook hóé goed. 1 Kamertemperatuur As jou steak in die yskas is, moet jy hom minstens 20 minute voordat jy hom wil braai, uithaal. Hou hom in die skaduwee of in die huis – en gooi ’n vadoek oor om te keer dat die vlieë daarop toesak (jou steak is 100% proteïen!). En as daar honde of hiënas in die omtrek is, sit die vleis op ’n plek waar hulle dit nie kan bykom nie. As jy ’n goeie steak koop, gaan jy hom waarskynlik nie vries nie, maar as jou vleis wel bevrore is, skuif dit minstens ’n dag voor die tyd van die vrieskas na die yskas. 2 Warm is die wagwoord Jy het baie kole nodig, en hulle moet vuurwarm wees – as jy wonder of jy genoeg hitte gaan hê, is die antwoord gewoonlik nee. As jy met regte hout ’n regte vuur maak – en ons almal weet dis die beste manier om te braai – maak van die begin af ’n groot vuur sodat jy weet jy het genoeg hitte. Moenie ’n middelslag-vuur maak en dan later nog hout bysit nie, want teen die tyd dat die tweede klompie hout uitgebrand het en gereed is, sal die kole van die eerste klompie al halfdood wees. Stook die vuur met baie hout, wag tot dit uitgebrand het, en braai dan dadelik – as die vleis eers op die vuur is, is jy kort voor lank klaar gebraai. As jy om die een of ander rede houtskool moet gebruik, steek weer eens ’n hele klompie aan. Vir ’n klein braai kan jy so ’n halwe sak uitskud. (Ek gebruik dikwels ’n hele sak as ek steak braai vir ’n vakansiehuis vol mense.) 3 HOOFFOTO SHUTTERSTOCK Hoe hoog? Hoe hoog jou rooster bo die kole is, maak nie soveel saak nie. Enigiets tussen 5 cm en 15 cm is in die haak. Wanneer jy steaks by die huis braai, braai hulle altyd op dieselfde hoogte en sorg dat jy wéét wat daardie hoogte is. Wanneer jy op ’n nuwe plek braai, skat die hoogte van die rooster relatief tot die hoogte van jou rooster by die huis en pas jou braaityd daarvolgens aan. 4 Nie te gaar nie Steaks behoort mediumrou (medium rare) gaar­ gemaak te word. As jy regtig jou steak halfrou (rare) verkies, probeer eerder steak tartare of beescarpaccio. As jy halfgaar (medium) verkies, begin nou ’n goeie gewoonte en koop topgehalte steaks, leer om hulle beter te braai en ontwikkel jou smaaksintuig om hulle mediumrou te eet. As jy van jou steak half- of deurgaar (well done) hou, vir wat lees jy hierdie? Jy is sekerlik groot genoeg om jou vleis op eie stoom op te foeter. As enige van jou gaste hulle vleis deurgaar wil hê... weier! 5 Om te sout of nie Jy kan die sout byvoeg wanneer jy wil – voor, gedurende of ná die braai. Ek dink regtig nie dit maak veel verskil aan hoe sag of sappig die vleis gaan wees nie. 6 Kyk op die horlosie Kyk hoe laat jy die steaks op die rooster sit en haal hulle ná so 7 minute af. Steaks van 2,5 cm tot 3 cm dik neem omtrent 7 minute om mediumrou te word (10 cm bo vuurwarm kole). Ver­deel die 7 minute soos volg: Ná 2 minute draai jy die steak die eerste keer om, ná nog 2 minute word hy nog ’n keer omgedraai, en 1½ minute later word hy ’n laaste keer gedraai. Laat hom nou vir nog 1½ minute oor die kole lê en hy’s perfek. 7 Kom draai Meraai Gebruik ’n braaitang om die vleis om te draai en nié ’n vurk nie. ’n Vurk steek gate wat jou sappigheid kan kos. 8 Hoog en droog Die vleis moet droog wees wanneer jy dit oor die kole sit; moenie dit marineer of met sous verf voordat albei kante vir 2 minute gebraai het nie. Terwyl die hitte van die kole die onderste oppervlak van die vleis seël, vind sekere chemiese reaksies plaas – dis dié reak­ sies wat deels verantwoordelik is vir die heerlike braaismaak. As jy die vleis met sous verf voordat dié reaksies plaasgevind het, stoom die buite-oppervlak en jy verloor daardie braaismaak. 9 Domino-effek As jy die steaks een-een omdraai, maak seker jy doen dit in die volgorde waarin hulle op die rooster gegaan het, en haal hulle ook in daardie volgorde af. 10 Blaaskans... Vleis het ’n rus­ kansie nodig voor jy dit eet – só kom die sappe tot bedaring en keer jy dat alles uitloop as jy die vleis sny. Tog moet die vleis nie koud wees teen die tyd dat jy dit eet nie. As jy die borde vooraf verhit, behoort dit nie ’n probleem te wees nie. Moenie die steak saam met ’n klomp ander vleis in ’n aluminium­ braai­bak sit nie. As jou vleis vir ’n uur in die oond lê en stoom terwyl die een of ander skaapkop nog sy bevrore hoender braai, gaan jou steak verwoes wees. Uit: Jan Braai Vuurwarm, uitgegee deur Book Storm en Human & Rousseau Jan Braai vir Erfenis Sondae om 18:00 op kykNET, kanaal 144 2016 | UITGAWE 3 | kykNET 29