kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 27

5 6 Hennie (26) is ’n veeboer van Willowmore in die Oos-Kaap. Hy is op soek na ’n vrou wat weet geluk begin by haarself. “Ons moet saam die Here kan dien en saam kan groei,” sê hy. Hennie is een van vyf kinders – hy en sy drie broers boer saam met hulle pa. Hy restoureer graag ou huise en meubels. Beste eienskappe “Ek is lojaal en sal altyd moeite doen vir my familie en vriende. Eerlikheid is vir my baie belangrik.” Slegste eienskappe “Ek raak soms gefrustreerd as dinge nie dadelik gebeur nie. Ek is ook verstrooid en vergeetagtig.” Corné (30) is ’n melkboer van Alexandria in die Oos-Kaap. Sy ideale vrou sal hom ondersteun deur die goeie én slegte tye en moet lief wees vir diere. Sy moet ook van die buitelewe hou. Hy beskryf homself as ’n passievolle mens wat daarvan hou om te kamp en nuwe plekke te ontdek. Beste eienskappe “My sin vir humor. Sonder vreugde kan ’n mens nie ver kom nie. En ek het ’n goeie algemene kennis.” Slegste eienskappe “Ek sukkel om iemand naby aan my hart toe te laat en maak net oop wanneer ek lief raak vir iemand.” 7 8 Johan (34) is ’n skaapboer van Victoria-Wes in die NoordKaap. Hy soek ’n vrou wat eerlik en opreg is en in die Karoo kan aanpas. Hy hou van die buitelewe, sport en om sosiaal te verkeer. Hy kan romanties wees. “ ’n Lekker vuurtjie met ’n piekniek in die Karooveld is vir my die perfekte plek vir ’n afspraak,” sê hy. Beste eienskappe “Ek is eerlik, reguit en vriendelik.” Slegste eienskappe “Ek is ongeduldig, hou nie van mense wat voorgee wat hulle nie is nie, en vertrou mense te maklik. En ek vee my hande aan my broek af as ek braai!” Wessel (31) boer by Cradock in die Oos-Kaap. Hy is op soek na ’n vrou met integriteit wat die positiewe in die lewe kan raaksien. Wessel het ’n rits dinge wat hom na aan die hart lê: driekamp, jag, raakrugby, fliek, reis, kamp, kook, biltong met geel vet, roomys en vasdans. By sy ideale romantiese afspraak is daar wyn, kerslig en goeie musiek. Beste eienskappe “Ek kyk ’n uitdaging vierkant in die oë. En ek is ambisieus, lewenslustig, liefdevol en barmhartig.” Slegste eienskappe “Ek is gematig ongeduldig en is baiekeer die minste – ten koste van myself.” 9 10 Rob (39) is ’n melkboer van Knysna en die enigste Engels­ sprekende deelnemer, hoewel hy baie goed Afrikaans kan praat. Hy is die vierde geslag op die plaas en al val die fokus op die melkboerdery, het Rob die laaste paar jaar ook ’n bergfiets- en landlooproete op die plaas gevestig. Beste eienskappe “Ek is lojaal, eerlik en jy kan op my staatmaak. En ek kan die snaakse in die meeste situasies raaksien.” Slegste eienskappe “Ek wag tot op die laaste nippertjie om dinge te doen en is nie juis netjies nie.” Johannes (27) is ’n wyn-en-vrugteboer van Robertson, en sy ideale vrou moet die uitdagings van boerdery verstaan, maar haar eie drome volg. Lesse wat hy uit vorige verhoudings geleer het, is om nie jou lewe rondom iemand anders te beplan nie en om die ander een ruimte te gun om hulleself te wees. Beste eienskappe “Ek is eerlik en het ’n goeie hart. Wat jy sien, is wat jy kry.” Slegste eienskappe “Ek is mededingend en doen alles om te wen. Ek is soms te reguit en raak kwaad oor nonsens.” Boer Soek ‘n Vrou Vanaf 20 Oktober Donderdae om 20:30 op kykNET, kanaal 144 2016 | UITGAWE 3 | kykNET 27