kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 24

JILL LEVENBERG
Jill ( middel ) speel die rol van Lucy Moten in David Kramer se musiekblyspel Orpheus in Africa . Links is Bianca Flanders en regs Edith Plaatjies .

Aanhou , uithou ... sukses !

Sy ken swaarkry – om nét van lensies te leef – en sy kén die donkerte van depressie . Maar die 38-jarige Jill Levenberg weet ook : Jy stof jouself af en staan weer op .
Deur Haidee Muller
24

Hier sit sy , op ’ n koue wintersoggend by Suidooster TV , haar werkplek – die ene Mymoena Samsodien . Pure goedhartigheid , dié standvastige en geliefde Moslemvrou van A . B ., die apteker . Jill het holderstebolder in dié karakter ingeklim , en jy laaik haar dadelik .

Sy glo nie in halfpadsake nie , verseker die meisie van Kensington in die Kaap jou vinnig .
As sy die koorjuffer Lucy Moten gespeel het in David Kramer se bekroonde teaterstuk Orpheus in Africa , het sy daai Amerikaanse aksent gegóói . Mense het gedink sy is van “ Obamaland ”. Natuurlik is sy ook behoorlik beloon daarvoor : ’ n Fleur de Cap-toekenning as beste ondersteunende aktrise in ’ n musiekblyspel of musiekteater .
“ Iemand sê toe vir my ma almal in die rolverdeling is Suid- Afrikaans , behalwe die meisie wat Lucy speel . My ma was verbaas , want haar kind speel dan Lucy en sy is ’ n Kapenaar !”
Jill lag uit haar maag uit . Dis aansteeklik , en weliswaar moeilik om te glo dié oudste dogter van Carol en Joey Levenberg was eens op ’ n tyd onhoudbaar ongelukkig .
“ Ek het ’ n ruk lank in isolasie geleef en was ontnugter deur die toneelbedryf . Ek het bedags glad nie die huis verlaat nie , net saans bestuur , en vir mense weggekruip wat kom klop het . Ek kan jou wys hoe om lensies op ’ n klomp verskillende maniere gaar te maak .”
Vandag is sy weer die ou lekkerlag-Jill . Haar ouers het haar immers geleer jy gooi nooit die handdoek in nie . Nóóit nie . kykNET | UITGAWE 3 | 2016