kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 23

mentêre reekse op kykNET, maar Hotel hou rêrig by die genre se konvensies.” Die reeks speel af op Fransenburg, ’n fiktiewe dorpie in Mpumalanga. Die Fransen-hotel, met Ferdie Kruger (James Borthwick) aan die stuur van sake, word oorgeneem deur die weeldehotelgroep Lourier. Thomas van As (Beer Adriaanse) word soontoe gestuur om die hotel saam met Ferdie te bestuur... en dit lei tot allerhande dinamika en uiteraard konflik. Danny Beyers, wat deur Schalk gespeel word, is ’n portier by die hotel, maar hy is ook ’n aspirant-akteur wat lid is van ’n dramagroep op die dorp. “Hy wil graag hê al die ander karakters moet sy acting-tonele saam met hom oefen. Danny het baie beskermend grootgeword en is ’n totale optimis wat glad nie die bose in die wêreld of ander mense sien nie,” sê Schalk. “Ek dink die kykers behoort hom te geniet.” Vir sy rol as Danny het Schalk besluit om sy snor af te skeer en sy hare te sny. “Ek wou nie hê mense moet dink dit is Schalk wat besig is om Schalk te speel nie – ek wou ’n transformasie ondergaan sodat mense eerder vir Danny kan sien.” Die akteurs het vyf weke saam op die stel deugebring. “ ’n Mens raak soos ’n familie,” sê Schalk. “Die soort vriend­ skappe wat ek gemaak het, dis friends for life. Ek hoop ons sal saam nog nuwe werk kan skep en vorentoe saam werk aan projekte. Ek sal graag dié vriendskappe met ’n tweede seisoen wil voortsit, maar dít kan net die kykers bepaal.” Schalk wil graag meer TV-werk doen en elke jaar ’n nuwe vollengte komedie­ vertoning verhoog toe bring. Intussen raak hy nog gewoond aan al die aandag – hy kry byvoorbeeld boodskappe op Facebook van mense wat wil weet of hy Sacha Baron Cohen se Borat-karakter is, terwyl ander hom sommer trompop loop en “Borat!” gil. Ander kom met huweliksaanbiedinge. (Slegte nuus vir dié hoopvolles: Schalk is in ’n gelukkige verhouding met die Kapenaar Louise Park-Ross.) “Ek besef mense het goeie bedoelings,” sê Schalk. “Dis hulle manier om waarde­ ring te wys.” Twee interaksies kort ná mekaar by vanjaar se Woordfees illustreer dalk die beste hoe wyd Schalk se gewildheid strek. ’n Studentekelner het skamerig vir hom gevra of hy ’n selfie saam met hom kan neem, en kort daarna het ’n ouer man anderkant aftrede hom in die verbygaan op die skouer geklop en gesê: “Boetie, ek sien jy word volksbesit!” As ’n mens kyk na Schalk se opgang, het daardie oom duidelik geweet waarvan hy praat. Erns Grundling is ’n joernalis by die tyd­ skrif Weg en werk by geleentheid as vry­ skutvervaardiger saam met Schalk. Hotel Maandae om 20:30 op kykNET, kanaal 144