kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 21

film, maar ek hoop hierdie toneelstuk gaan vir my ander teaterwerk bring.” In 2010 was sy een van die deelnemers aan die werklikheidsreeks Survivor – die reeks wat op die ou end deur Gigi van Schalkwyk gewen is. Wat onthou sy van haar tyd in dié reeks? “Dit was moeilik, maar die een ding wat ek onthou, is dat ek om die een of ander rede nooit honger was nie. Dit was asof my brein vir my gesê het daar is nie kos nie en dis nutteloos om my daaroor te bekommer. Ek het ook besef ek kan enige situasie oorleef, maar by sommige mense kan ek nie kers vashou nie. Ek het geglo ek kan net myself wees. Ek is ’n praktiese mens sonder enige draadwerk, maar met Survivor het ek besef ek is nie goed vir werklikheids-TV nie! Ek kon net nie die drama bring wat nodig was nie.” Sandi het twaalf jaar in Amerika gewoon voor sy in 2005 teruggekeer het na Suid-Afrika. “Ja, daar is dinge wat ek mis,” sê sy. “Ek het nooit my deure gesluit nie en my motorsleutels was altyd in die kar, maar ek het my familie gemis. My ma, Margaret, is nou 84, en al woon ek in Johannesbrug en sy in die Kaap, is ons op dieselfde vasteland en ons kan met een vlug by mekaar uitkom. Familie is vir my belangrik. Ek het ook ’n wonderlike vriendekring in Suid-Afri­ka, en hoewel ek in Los Angeles werk gekry het, is die geleenthede vir my hier net soveel meer.” Die gesprek draai na die politiek. “Ek moet sê die politiek hier én in Amerika staan my glad nie aan nie. Dis asof daar wêreldwyd ’n tekort aan medemenslikheid is en dit word in die politiek weerspieël. Net vanoggend het ek vir mense vertel van my grootwordjare op Franschhoek en hoe ons hout en water moes aandra. Dit was moeilik, maar mense het uitgekyk vir mekaar. Ek hoop die wêreld kan verander sodat mense – álle mense – meer vir mekaar omgee.” Klik hier om na ’n voorskou van Hotel te kyk. 21 Hotel Maandae om 20:30 op kykNET, kanaal 144 2016 | UITGAWE 3 | kykNET