kykNET Uitgawe 3 - 2016 | Page 19

Andries : Op skool al was ek bekkig . Ek was ’ n prater en het in ’ n huis grootgeword waar daar nie so iets was dat kinders gesien en nie gehoor mag word nie . Ons is nader geroep om stories te luister en saam te praat .
Wie is julle gunsteling-storieverteller ? Pietman : Dit is moeilik om mense uit te sonder : Pyp de Villiers , Tolla van der Merwe , Arno van Zyl , Nico Nel , Hokkie Schreuder , Valiant Swart ... Andries : Ek is gebore met ’ n groot hart en daarom het ek ’ n liefde vir ’ n klomp mense , maar die een mens waaraan ek my kon verluister , was Ollie Viljoen . Hy het soveel tyd gehad om ’ n storie te vertel – nie net die storie nie , maar ook die mens agter die storie . Later het jy vergeet jy luister na ’ n storie .
Wat maak ’ n goeie storie ? Pietman : ’ n Goeie storie moet jou tot heel aan die einde laat wonder wat gaan gebeur . Dit hoef ook nie noodwendig snaaks te wees nie , maar as dit wel ’ n komiese storie is , is ’ n “ laugh a minute ” altyd goed . Andries : Ek kom weer terug na Ollie toe : Hy het my omtrent met die hand grootgemaak vir die verhoog . Hy het altyd vertel Tolla het gesê ’ n goeie storieverteller is ’ n goeie waarnemer . Oor die jare het ek besef ek staan baie stil en luister wanneer iemand ’ n storie vertel . Tolla het ook gesê jy kan nie nié lief wees vir mense en dink jy kan ’ n storieverteller wees nie .
Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen het al twee op skool al geweet hoe om ’ n storie te vertel vir familie en vriende . Met inspirasie van groot kanonne soos Tolla van der Merwe en Ollie Viljoen is hulle reg om kykNET-kykers te vermaak .
Jok julle soms ’ n stertjie by om ’ n storie interessant te maak ? Pietman : Beslis . As jy jou beperk tot hoe dinge regtig verloop het , sal dit maar bra voorspelbaar wees . Met storievertel kan jy ook jou komiese fantasieë uitleef . Andries : Ja ! ’ n Storie wat jy vier jaar gelede begin vertel het , is vandag nie meer dieselfde storie nie . Tolla het ook gesê feite moenie in die pad staan van ’ n goeie storie nie .
Wat is julle idee van ’ n lekker dag ? Pietman : Om in die Karoo te sit met ’ n staanrib teen die vuur , my eie mense om my en ’ n kitaar in my hand . Dit kan maar koud wees . Óf warm . Andries : Om in die veld te kuier met die mense van my hart .
Watse kos en drank sal julle kies vir ’ n aand van stories vertel ? Pietman : Rooiwyn en ’ n warm tamatiegereg . Iets waaraan jy lekker lank kan eet . Of daai staanrib wat twee dae lank gebraai kan word ... Andries : Ek is lief daarvoor om die filet van ’ n bok te vul en ’ n delikate ete daarvan te maak . Natuurlik ook ’ n bottel goeie rooiwyn en ’ n vuur wat só groot is dat jy sukkel om die mense aan die ander kant te sien . Dis ook belangrik om die regte mense om jou te hê – ek was al by mense wat nie die regte hart het vir ’ n goeie storie nie .
Wat is die grootste verskil tussen ’ n storieverteller en ’ n komediant ? Pietman : Ek dink die verskil lê in die tydsberekening . Indirek is al twee dieselfde ding . ’ n Skerpskertser se stories is seker maar net korter of meer relevant of gekoppel aan wat hedendaags gebeur . Andries : Dalk is daar ’ n dieper kant aan ’ n storieverteller . Komediante moet op hulle voete kan dink en slim wees , maar ’ n storieverteller moet die diepte van ’ n storie kan oordra .
Wat is die snaaksste storie wat julle die afgelope tyd gehoor het ? Pietman : ’ n Storie in die eerste episode van OppieStoep – die een van hoe iemand met ’ n sinkplaat oor die Overberg vlieg . Andries : ’ n Tannie van Caledon het onlangs vertel van haar man wat by die huis gekom het nadat hy by die rugbyklub gekuier het . Sy het gesien hy ry in die motorhuis in , maar hy het nie ingekom huis toe nie . Sy hoor toe die toeter , maar los die oom . Toe sy die tweede keer die toeter hoor , gaan kyk sy . Die oom het ’ n bietjie gerus , en elke keer wanneer sy kop sak , het die toeter geblaas . Die oom het dan sy hand by die venster uitgewaai en gesê : Kom verby !
Wat dink julle het Ouma en Oupa regtig vir mekaar gesê toe hulle op die stoep sit ? Pietman : Sy het vir hom gevra of hy nog nie wil gaan kyk of OppieStoep se heruitsending al op kykNET begin het nie , en as dit nie het nie , of hy nie dalk langs haar wil kom sit vir ’ n bietjie hitte nie . Andries : Ek kan net sê wat my oupa altyd gesê het : As jou drome jou nie laat wakker skrik in die nag nie , dan droom jy te klein .
19
OppieStoep Vrydae om 18:00 op kykNET , kanaal 144
2016 | UITGAWE 3 | kykNET