kykNET Uitgawe 2 - 2016 | Page 42

| Uitvlucht Op 13 Mei begin Uitvlucht landwyd in teaters draai. Die hoofrol word vertolk deur Clara Joubert van den Bergh, met haar man, die welbekende rolprentmaker Regardt van den Bergh, as regisseur. Clara Joubert het vir haar man, Regardt van den Bergh, vertel van die plaasskooltjie in die Oos-Kaap waar sy skoolgehou het. Sy het die stories begin neerskryf, en kort voor lank was daar ’n draaiboek. “Ons het my ervarings en van die staaltjies by die skool en hoe ons mekaar ontmoet en verlief geraak het, bymekaar gesit – met natuurlik ’n bietjie fiksie en drama daarby, en so is Uitvlucht gebore. Toe Regardt hoor die skool waar ek skoolgehou het se naam is Uitvlucht, was sy eerste woorde: ‘Dit gaan ’n fliek word.’ So maklik soos dit.” Clara en Regardt, wat in 2012 getroud is, het saam die draai­ boek geskryf. “Baie dae, weke en maande van dink, praat, skryf en oorskryf,” sê sy. Uitvlucht vertel die verhaal van Anna, ’n vrou wat alles verloor ná ’n buite-egtelike verhouding. Sy kry werk by ’n plaasskooltjie en begin stadig maar seker haarself vergewe. Met die ondersteuning van die ander onderwysers by die skool en die vriendskap van ’n saggeaarde boer van die omgewing kan Anna weer die lewe in die oë kyk. Ook in die rolverdeling is Stian Bam, Margot Luyt, Carel Trichardt, Jill Levenburg, Oscar Petersen en Clyde Berning. “Ek en Stian het mekaar glad nie voor die tyd geken nie en ek was maar skrikkerig vir hom,” sê Clara. “Hy is ’n baie ernstige akteur en ek dink in ’n mate inkennig, soos ek ook maar is. Maar vir ons karakters het hierdie inkennigheid soos ’n handskoen gepas. Nie Dok (Bam se karakter) óf Anna wou regtig weer iemand in hulle lewe hê nie. Uiteindelik het ek baie lekker saam met hom gewerk, en dit was vir my ’n voorreg. Stian is behulpsaam, talentvol en gaaf. Ja, Stian is regtig nice!” Ná die maak van Uitvlucht het sy nie stilgesit nie. “Ek en Regardt het twee tekste aan kykNET voorgelê en hoop om binnekort daaraan te begin werk. Ek het ook ’n draaiboek vir ’n Afrikaanse rolprent, Bon Voyage, Ouma Koos, klaar geskryf. Dis ’n lekker storie met ’n ubuntu-gevoel. En dan is ek besig met die sinopsis van nog ’n Afrikaanse komedie waaroor ek baie opgewonde is.” Wie sal van Uitvlucht hou? “Mense wat hou van stories uit die hart, sonder pretensie – eintlik enigiemand wat wag op ’n tweede, derde of selfs vierde kans om liefde te vind. Die grootste boodskap in die fliek is dat die liefde alles oorwin. Al is jou hart ook hoe verhard, aan die einde van die dag soek jy net twee dinge: liefde en aanvaarding.” Klik hier vir die lokprent 42 Clara Joubert van den Bergh en Stian Bam op die stel van Uitvlucht. kykNET | UITGAWE 2 | 2016 Clara, ’n voormalige graad R-onder­ wyseres, met van haar jong medespelers.