kykNET Uitgawe 2 - 2016 | Page 37

David Vlok | “Maar tog ... ek dink nie ek is só streng nie. Vroeër in my lewe was ek meer van ’n Gideon as wat ek nou is. Nou is ek rustiger. Ek is nie meer so grim nie.” Grim of nie – kykers gaan mal wees oor Gideon, en sterk met hom identi­fiseer. “Gideon Bekker is ’n pa wat nie nonsens vat nie. Hy is streng en baie konserwatief. Sy seun speel rugby en hy het soveel verwagtinge en drome vir hom – maar ook vir sy ander kinders.” David lag wanneer ’n mens hom vra hoe natuurlik die rol vir hom gekom het. “Ek dink ek gaan baie kritiek kry van my eie twee kinders. Hulle gaan sê: ‘Pa, dis alles nes jy.’ Hulle gaan sê dis nie toneelspel nie!” Min mense weet David Vlok was voor sy rol in Egoli ’n waaghalsakteur in B-lys-Hollywood-flieks. “Ek het in al die gevegstonele gespeel en hier en daar klein rolle gekry waar ek ’n kar moes omrol of ‘Ek gaan jou doodskiet!’ skree.” In die jare negentig het hy ’n rol losgeslaan in Ballade vir ’n Enkeling … en toe kom Egoli. “Egoli was ’n verskriklike groot sepie. Nie een van ons het dit verwag nie. Dit het my lewe hééltemal verander. Ek het dadelik van ’n junior akteur gevorder tot op die vlak van Sandra Prinsloo en Gé Korsten.” Al het Egoli in 2010, ná 18 jaar op die kassie, tot ’n einde gekom, word hy steeds op straat erken, lag David verleë. “Ek was amper 15 jaar in Egoli – eers as ’n blinkoogonderwyser en later as die sluwe sakeman wat toe in sy kantoordeur by Walco dood­ geskiet is. Dis ’n lang tyd wat ek in mense se sitkamers was.” Egoli het van akteurs supersterre ge­ maak. “Aan die begin het nie een van ons geweet wat met die reeks gaan gebeur nie. Maar later het honderde briewe elke dag in elke akteur se posbus beland. Niemand kon in die strate loop nie – dit was soos Hollywood. Eers met ons eerste roadshow in Bloemfontein, toe daar tussen 30 000 en 40 000 mense opdaag, het ons gesien presies hoe suksesvol Egoli is.” Ná die sepie se einde het David teater­ werk gedoen en ook ’n restaurant oop­ ge­­maak. En hy het weer begin tyd be­ stee aan sport – hy het immers al 20 Comrades-wedlope kafgedraf en doen al 30 jaar lank karate. Hy en sy vriend die Comrades-koning Bruce Fordyce het die program Vlok and Fordyce on the Run op SuperSport aangebied waar hulle onder meer vir behoeftige kinders kos gegee het. Hy het ook motiveringspraatjies gehou, veral ná sy 20ste Comrades-mara­thon wat hy met groot drama vol­tooi het. Hy het die oggend verslaap, en dit was so hittete of hy het die wedloop gemis – hy het tegnies van die beamptes af “weggehardloop” sodat hulle hom nie kon keer nie. En hy het die eindstreep gehaal. “Om by daardie punt te kom en dan laat wakker te skrik – en om dit dan klaar te maak! Ek wil ’n kortfilm daaroor maak, net om te wys as jy iets wíl bereik, dan kán jy. Soveel atlete het vir my gesê hulle sou in die bed gebly het.” Tussendeur was daar ook rolle in 7de Laan, Generations en later Sterlopers – dit was juis in Sterlopers waar hy die rol van ’n pa gespeel het, ’n rol wat die weg gebaan het vir Getroud met Rugby – Die Sepie. “Ek het teenoor Nadia Beukes gespeel en ons het baie goed gekliek. Deon het gesê ek moet kom vir ’n oudisie. Ek het nie geweet waarvoor nie, maar ek het nie­ temin gegaan. Toe bel Deon later en sê ek is reg vir die karakter van die patriarg van die Bekker-familie.” Wat Getroud met Rugby – Die Sepie vir hom lekker maak, is dat dit ’n sepie is met ’n storie­lyn wat vinnig beweeg en ’n lekker ritme het. “Ons het die beste skrywers. Dis nie maklik nie, maar ek dink ons maak ’n goeie sepie. Dit gaan ’n nuwe soort sepie wees met ’n nuwe formule. En elke nou en dan dink ek gaan Deon dalk die David Vlok van tien jaar gelede vir mense wys.” Ons hoop nie Gideon Bekker word ’n skelm nie … Getroud met Rugby – Die Sepie word weeksaande om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die Bekkers is van links voor Nina (Jocelyn Broderick) en Gideon (David Vlok) en van links agter Chrizanda (Melissa Willering), Reitz (Sean van Noordwyk), Tommie (Arno Greeff) en Lorette (IlseLee van Niekerk). 2016 | UITGAWE 2 | kykNET 37