kykNET Uitgawe 2 - 2016 | Page 24

| Vlerksleep Die kuns van VLERKSLEEP Trou jy ook met die familie? By wie moet jy vlerksleep as jy ’n nuwe geliefde soek? Hoe belangrik is vriende en familie in ’n verhouding? Ons het by twee sielkundiges gaan kers opsteek. Vlerksleep, kykNET se nuwe werklik­heidsreeks waar alleenlopers nuwe liefde soek, is ’n reeks met ’n verskil. Hier moet jy eers by die familie en vriende verbykom voor jy jou potensiële maat kan ontmoet. Dit werk so: Die enkellopende deel­nemers moet eers by die vier potensiële maats se vriende en familie vlerksleep voordat hulle hul keuse maak. Hulle moet meer uitvind oor die persoon sonder om hom of haar te ontmoet, en dán eers kies die deelnemer een maat vir ’n afspraak. Maar is die persoon wie die familie en vriende sê hy/sy is? “Om in ’n familie in te trou of ’n nuwe verhouding te begin is soos om in ’n nuwe woonbuurt in te trek,” sê dr. Irene Strydom, ’n sielkundige van Wellington in die Wes-Kaap. “Jy behoort nie sommer by die nuwe huis in te trek as jy nie darem iets weet van jou knorrige ou buurman of die gevare van die drinkplek langs jou huis nie. “Dieselfde geld vir ’n nuwe verhouding. Jy betree ’n totale nuwe sosiale stelsel wat nie sommer gaan verander of noodwendig by jou gaan aanpas nie. Jy behoort jou maat se familie en vriendekring te bestudeer, en eers as waarnemer te kyk hoe hulle lewe en of jy gemaklik is daarmee. Die volgende stap sou wees om te ontleed watter uitwerking dié inte