GROND tot MOND Feb | Mrt 2023 Uitgawe 14 | Page 101

FINANSIES | BOEDELBEPLANNING
Liezl Kritzinger , direkteur by Bill Tolken Hendrikse Ing , wat die boedel , trust en testamente afdeling van die praktyk bestuur , skep ter verduideliking ’ n scenario waarin tipiese probleme uitgelig word en gee raad . Name is fiktief .
In hierdie scenario is die plaaseiendom ter sprake reeds in ‘ n inter-vivos of testamentêre trust geregistreer en nie in die boer se eie naam nie .
Pieter De Klerk is 63 . Hy is getroud met drie kinders , twee seuns , Karel en Jan is 33 en 30 , en ’ n dogter , Amelia van 25 . Die hele gesin is gelys as begunstigdes van die trust . Dis ’ n wynplaas wat al vyf generasies in die De Klerk familie is .
Die oudste seun , Karel is getroud en het drie kinders . Hy het landbou studeer en boer reeds saam met Pieter . Jan het logistiek studeer . Hy werk tans in Johannesburg en is nog ongetroud . Amelia het wynkunde studeer en werk tans op ’ n ander wynplaas om ondervinding op te doen . Sy is ook nog ongetroud .
Die plaas is in waarde by verre die grootste bate in Pieter se “ boedel ” ( as ons boedel en trustbates saam in ag neem ). Hy en sy vrou het oor die jare meeste van hul kapitaal in die plaas herbelê om dit op te bou , maar het ook ’ n strandhuis in hul eie naam , en ’ n beleggings- en annuïteit portefeulje . Hul voertuie is geregistreer in die naam van die boerdery-maatskappy . Hy het lewensdekking . Dit sal voldoende wees om die verband op die strandhuis en al die boerdery se oortrokke fasiliteite en uitstaande voertuig en toerusting finansiering te dek wat tans ’ n beduidende gedeelte van die boerdery se maandelikse uitgawes verteenwoordig .
Sy finansiële adviseur sê die kapitaal is sy persoonlike boedel . Na aflos van die verband op die strandhuis , is dit nie voldoende om sy aftrede te befonds tensy hy met dieselfde inkomstestroom met ten minste inflasie gekoppelde verhogings aanhou werk tot hy 72 is nie , en dan sal hul ook die strandhuis moet verkoop om hul kapitaal aan te vul .
Pieter se gesondheid verhoed dat hy verdere lewensdekking op die tydstip kan uitneem .
FEB | MRT 2023 GROND TOT MOND 101