Grond tot Mond Des 2025 / Jan 2026 - Uitgawe 31 | Page 15

DEUR DIE LENS

Die kwekery het in die sestigerjare ontstaan toe Bremer Pauw senior die groeiende vrugtebedryf se behoefte aan jong bome raakgesien het. Vandag is Bremer en Elaine Pauw steeds aan die stuur, saam met hul dogter Karien, haar man Willy en die ervare kweker Deon Lotter. Dit is’ n span vir wie tegniese kennis en handewerk deel van elke dag is.

Die kwekery spesialiseer in gewilde appel- en peerkultivars, van Gala en Granny Smith tot Forelle en Packham. Maar om’ n boom gereed vir’ n nuwe boord te kry, is alles behalwe eenvoudig. Bremer wys dit self met’ n klein entmessie in die hand.

’ n Enkele ogie word op die regte onderstam ingeplant, vasgemaak, versorg en oor twee groeiseisoene gevorm tot’ n gesonde plant met die regte eienskappe. Geen masjien kan dit doen nie. Dit verg fyn vingers, baie ervaring en duisende oomblikke van geduld.

Soos die industrie verander het, het die kwekery saam ontwikkel. Onderstamme kom nou van weefselkultuur en goedgekeurde moederblokke, en grond word met beroking en hulpmiddels herstel waar nuwe lande skaars geword het. Tog bly die beginsel dieselfde as in die vyftigerjare: begin met skoon, sterk plantmateriaal en bou van daar af’ n boom waarop’ n boer vir baie jare kan staatmaak.

Wanneer’ n mens saam met Karien die bergpad opry na die jong boompies, sien jy dit duidelik. Hier is’ n onderneming wat deur mense gedra word, deur kennis, deur liefde vir die grond en deur’ n familie wat glo dat elke boom’ n storie dra nog lank voor dit die eerste vrug dra. Ligging: Twee Riviere, Joubertina. Kontak: bpauw @ langkloof. net

DES 2025 | JAN 2026 GROND TOT MOND 15