DEUR DIE LENS
LEONIE EN JOHN RELIHAN Spes Bona , Riebeek-Kasteel , Wes-Kaap . Foto : Mia Truter
Leonie en John Relihan het na 35 jaar in die korporatiewe wêreld , 42 ha in die Swartland gekoop om ‘ n aftree-boerdery te begin . Hulle uitdaging was om ’ n bestaan op ’ n klein stukkie grond te maak , en dus fokus hulle toe op ‘ n lae volume uitset , maar met produkte van hoogstaande gehalte .
John het al tydens sy korporatiewe loopbaan met olywe begin boer en vertel dat dit eintlik ’ n gemaklike boerdery is . “ Ons kon grootliks van die olyfvlieë ontslae raak en die bome is goed gevestig . Aanvanklik kort hulle ’ n bietjie aandag en water , maar as hulle eers aan die gang is , is hulle baie gedweë .”
Hulle besit ‘ n oliepars en bemark die olie onder hul eie Kasteelberg handelsmerk aan ‘ n paar grootmaatklante en andersins plaaslik .
Leonie vervaardig ook ‘ n verskeidenheid olyfolie-verwante produkte soos handerome , sepe en badprodukte .
Oor sy gin is John ewe opgewonde . Dit het hom byna drie jaar geneem om al die hersonerings en lisensies te bekom , oudits met SARS deur te gaan en om oor al die administratiewe hekkies te spring . Hy gebruik speserye uit die omgewing , soos boegoe wat hy self kweek , bergseldery , kooigoed , wilde anys , bloubessies , saffraan , rooibostee en die baie gewilde granaat om sy gin mee te geur . Die gin word hoofsaaklik plaaslik , maar ook op Takealot , bemark .
Dan is daar nog sy eie vyf jaar oue brandewyn wat hy self stook , ook in klein maat in vaatjies van 50 liter . En so nou en dan , as hy goeie alkohol gedistilleer kry , ook ’ n bietjie witblits .
“ Ek is nie eintlik ’ n produsent nie , eintlik maar net ’ n vroetelaar . Ek het aanvanklik my salaris gebruik om aan die gang te kom en nou geniet ons dit , op die tyd en plek wanneer en waar ons wil .”
8 GROND TOT MOND APR | MEI 2023