ARTIKEL
Cobus Burger, SGS Hoofbestuurder
GEBRUIK VAN PRESISIETEGNOLOGIE
OM DIE EFFEKTIWITEIT VAN ‘N KALKTOEDIENING TE OPTIMALISEER
Die reaksie op ‘n kalktoediening, kwaliteit van
kalk vir eers geïgnoreer, is net so goed soos die
inligting wat ingesamel is. Insetkoste bly styg en
produkpryse verhoog nie as ‘n reël saam met die
tendens op ‘n jaar-tot-jaar basis nie. Gevolglik is
daar voortdurend ‘n kosteknyptangaksie en moet
ons dus poog om vir die komende seisoen die
maksimum opbrengs te verdien op ons belegging in
kalktoedienings.
pH(KCl) – kaart (357ha land)
Roete 1 – pH(KCl) analise is 4.1
en kalkaanbeveling is 3.5 ton/ha x
357ha = 1 249 ton kalk
Roete 2 – pH(KCl) analise is 4.9 en
kalkaanbeveling is 1 ton/ha x 357ha
= 357 ton kalk
Variërende toediening (grid
monstering) – Van 1 – 4.5 ton/ha =
2.6 ton/ha x 357ha = 928 ton kalk
Die produsent wil redelik seker wees dat sy
opbrengste sal verbeter waar hy wel kalk toegedien
het vir die komende seisoen en nie eers in die
tweede seisoen nie. Hier speel oplosbaarheid/
fynheid van kalk ‘n baie groot rol. Wanneer kalk
toegedien word, word daar gekyk na die volgende
aspekte:
• pH gekombineer met uitruilbare suurheid en
suurversadiging van die gronde.
• Plantvoedingstowwe soos Ca en Mg se
beskikbaarheid vir opname deur die gewas se
wortelstelsel.
• Om fisiese eienskappe van die bogrond te
beïnvloed waar struktuurloosheid en/of dan
die toeslaan van bogrond na ‘n goeie reënbui,
aangespreek kan word.
Bostaande drie punte kan alles met een
bekalkingsaksie aangespreek word en dus moet
ons nie net vir pH bekalk nie, want beskikbaarheid
van bostaande nutriënte, asook goeie bogrond
deurlugting beïnvloed ook opbrengsresultate.
Grondontledingsinligting word aanbeveel in jou
besluitneming ten opsigte van die hoeveelheid kalk,
asook tipe kalk wat toegedien moet word. Daar is
gewoonlik twee maniere waarop die grondinligting
ingesamel word:
• ‘n Gemiddelde grondontleding word per land
geneem.
• Presisietegnologie word gebruik om meer as
een monster op ‘n ruitpatroon te neem en dan
‘n nutriëntkaart op te stel wat verskille in pH
en nutriënte aandui. Dit kan dan verskillend
aangespreek word met ‘n strooier.
Die eerste opsie impliseer een peil regoor die hele
land wat nie noodwendig dieselfde opbrengs op
jou insette tot gevolg sal hê as wat ‘n variërende
toediening van kalk teweeg kan bring nie.
6
Graslander September 2018
Tussen roete 1 en VRT is daar 321 ton kalk verskil
op bestelling wat impliseer 321 ton kalk x R360/
ton = R115 560 meer vir jou kalkbestelling. Dit
is nie so effektief as die goedkoper variërende
opsie nie. Daarby is die opbrengs (die belangrikste
deel van die aksie) op die insetkoste waarskynlik
ook nie dieselfde is as ons kyk na uiteindelike
opbrengsreaksie nie.
Opsommend, ons moet poog om suurheid
(identifiseer probleemkolle) in ons gronde so
effektief as moontlik te neutraliseer deur te bekalk
as die geleentheid hom voordoen. Dit is veral
by ‘n pH(KCl) < 4.6 waar die aluminium in ons
gronde begin beskikbaar raak en sodoende die
uitruilbare suur + suurversadiging laat verhoog,
waar ons opbrengste begin verloor. Gedurende
midsomerdroogtes, wanneer ons dit die minste kan
bekostig, droog bogronde uit en word aluminium
die maklikste opgeneem deur ‘n gewas se wortels
en die netto effek is vernietiging van ‘n eens aktiewe
wortelstelsel met meegaande opbrengsverliese.