Flink Oktober 2023 55 | Page 22

Die oumense glo dat dit nooit voor Paul Kruger se verjaarsdag ( 10 Oktober ) sal reën in die Transvaal nie – Dis dalk ' n tipiese oumensstorie , maar dit getuig van hoe geliefd hy onder sy mense was , en vandag steeds is .
RUBRIEK

Paul Kruger – almal se oom

Dis dalk juis waarom mense na hom verwys het as “ oom ” in plaas van “ meneer die president ” of “ sy edele ”.
“ Moet my asseblief net nie oom noem nie , want ek is nie met jou tannie getroud nie ,” hoor ek vandag in my geestesoor weerklink : baie mans korrigeer mens vandag nog so as jy hulle “ oom ” noem by jul eerste ontmoeting , maar ek wonder soms of ons oom Paul ook só oor die term gevoel het . Nee wat , ek glo nie , hy is immers ons almal se oom ...
Die Amerikaanse skrywer Grenville Kleiser , wat toevallig ook ons oom Paul se tydsgenoot is , het eens gesê dit is maklik om mense te respekteer en lief te hê as hulle dieselfde geaardheid as jy het , maar vanwaar dié vreeslike liefde en respek vir oom Paul ?
Ek dink , en baie geskiedskrywe stem ook saam , dat oom Paul se nederigheid en deernis nie net van hom ' n uitsonderlike leier gemaak het nie , maar ook gemaak het dat hy tot vandag toe bekend is as “ ons almal se oom .”
Die oumense glo dat dit nooit voor Paul Kruger se verjaarsdag ( 10 Oktober ) sal reën in die Transvaal nie – Dis dalk ' n tipiese oumensstorie , maar dit getuig van hoe geliefd hy onder sy mense was , en vandag steeds is .

Ek hoor dié storie al vir jare , en snaaks genoeg het hy nog nooit teleurgestel nie , want sedert ek my verstand het , onthou ek dat 10 Oktober elke jaar ' n reëndag in Pretoria was . Dis snaaks dat ons nog altyd dié tipe verskynsels kon toeskryf as ' n magiese of bonatuurlike gebeurtenis , iets wat mens kan koppel aan ' n groot held of heldin , maar dit het my ook nog altyd laat wonder , “ het dit dan voor sy geboorte ook op 10 Oktober gereën ?” Nietemin , Paul Kruger bly een van die grootste geeste in die Afrikanergeskiedenis en die stories wat aan hom verbind is , is volksbesit – Dalk omdat hy president was of dalk doodeenvoudig omdat hy so geliefd was .

Oom Paul , die president met die oorbel wat min groot besluite sonder sy vrou se medewete gemaak het . Oom Paul , die fluitende man , Mamelodi , wat saam met die plaaslike swart stamme brood gebreek het en voëltjiegeluide perfek kon namaak . Oom Paul wat ' n doodnormale huisie in Pretoria gehad het , selfs kleiner as dié van sakemanne soos George Jesse Heys en Sammy Marx .
Dit is die oom Paul wat ons vandag ken .
Joko Ono , sangeres en filantroop , het gesê : “ Wees lief vir dié wat ' n goeie impak op aarde wil maak ” en hoewel sy nie hiér na hom verwys het nie , omskryf hierdie woorde Paul Kruger se nalatenskap perfek .
Ek hoor dié stories al jare – Oom Paul in die Groot Trek tydens die Slag van Vegkop , Oom Paul wat op 14-jarige ouderdom ' n leeu gejag het en ek dink dit is waarom oom Paul se legende vandag steeds leef .
As dit elke jaar , op 10 Oktober , begin reën in Pretoria , dan dink ek aan hom , ons almal se oom en alles wat ons vandag nog kan leer uit sy lewe .
“ Neem uit die verlede alles wat goed en edel is , en bou daarop die toekoms .” – Paul Kruger , 1904
FC Pelser
21 AFRIKAANS