flink ink | November 2017 | Page 16

Word ' n
FAK-VRIEND klik hier

CHRIS LAMPRECHT

90 jaar huldiging-CD

Die bekende komponis en orrelis Chris Lamprecht het onlangs 90 jaar oud geword , en ter viering daarvan is ' n dubbele CD-versameling , wat bestaan uit gewyde en sekulêre komposisies en verwerkings waarby hy betrokke was , vrygestel .
Die gewyde musiek is op die eerste CD , en daar is ' n paar werke wat uiters gewild onder veral kerkkore geword het . Een van die heel bekendstes is “ Wie het ek buiten U ?”, wat deur die RAU-koor onder leiding van Johan van der Sandt gesing word . Dit is seker een van Chris se heel bekendste komposisies . Die UJ-koor onder Renette Bouwer het verlede jaar baie goed gevaar met Varsity sing , en hul vertolking van Chris se verwerking van Psalm 84 is die volgende snit . Die tweede bydrae van die RAU-koor is ' n verwerking van Psalm 8 , bekend as “ Wat is die mens ?” Die eerste instrumentale snit is “ Die Here is my herder ”, waarop Charl Lamprecht die klassieke kitaar bespeel . Die liederwysie van Psalm 84 is nie so bekend nie , en dit is ' n jammerte , want dit is besonder mooi . Die weergawe van die Singkronies-kamerkoor onder leiding van Johan van der Sandt , is hier ingesluit . Die UP-koor onder leiding van Petru Gräbe is volgende aan die beurt met “ O diepte van die rykdom ”. Dit is ook goed om ' n paar minder bekende komposisies te hoor , soos die pragtige snit “ Hosanna Sy lieflike Naam ”, wat deur die SUKOVS-kinderkoor onder leiding van Huibre Verster gesing word . Nog ' n minder bekende , maar pragtige komposisie is “ Eerste Kersfees ”, waarvan die Singkronies-kamerkoor se weergawe ingesluit is . Chris was lank die orrelis by die NG Kerk Universiteitsoord en hy speel “ Dors na God ”, na aanleiding van Psalm 42 , op die orrel . “ Aan U kom ' n lofsang toe ” is een van Chris se bekendste komposisies , en die vertolking van die Singkronies-kamerkoor is baie goed . “ Kom na My toe ”, na aanleiding van Mattheus 11 vers 28 , is nog ' n bekende komposisie , en weer eens is die opname van die Singkronieskamerkoor ingesluit is . Talitha Koemi , wat deur die Tygerbergse kinderkoor onder leiding van Hennie Loock gesing word , vertel die verhaal van die opwekking van Jaïrus se dogtertjie . Die hoogtepunt op hierdie CD is “ Golgotha ”, wat deur die UP-koor gesing word en die verhaal van Jesus se kruisiging vertel . Benewens die hele stuk is twee uittreksels daaruit ook apart ingesluit . Chris se verwerking van “ Die Aandgesang ” is seker sy heel bekendste komposisie en aangesien dit in die Liedboek van die Kerk ingesluit is , word dit gereeld in gemeentes gesing .
Die sekulêre CD skop af met die baie bekende “ Akkedissie ”, wat deur Renette Bouwer , Marcia Otto en Nicolas Nicolai gesing word , met Charl Lamprecht wat weer eens die klassieke kitaar bespeel . Selfs met net ' n paar stemme klink dit baie goed . “ Nuwejaar ” is seker een van die heel bekendste koorwerke tot nog toe en die vertolking van die koor van die Noordwes-Universiteit onder leiding van Awie van Wyk is sonder twyfel een van die hoogtepunte van die hele versameling . Dit is ongelooflik lekker om na te luister , en jy voel of jy wil saamsing ! “ Die speenvarkie ” deur die Jakaranda-kinderkoor onder leiding van Riekie van Aswegen is nog ' n hoogtepunt . Dieselfde drie stemme as aan die begin van dié CD span saam vir die uiters skerpsinnige snit “ Só is ons maniere ”. Net jammer dit is so kort . Die Pretoria-mannekoor onder Margie Spaumer sorg vir “ Swart Jasper ”, nog ' n hoogtepunt . Die volgende snit , “ Ou windvoël ”, wat deur dieselfde koor gesing word , is nog ' n lekker snit om na te luister . “ Skugter Sarie ” is gebaseer op die bekende volksliedjie “ Sarie Marais ”, en dit bestaan uit vier dele . Dis lekker om ' n konsertina , gespeel deur Adriaan Odendaal , in ' n koorwerk te hoor ; dit is een van die redes hoekom die Vrystaatse jeugkoor se vertolking van “ Appelblouskimmel ” een van die beste snitte op die hele versameling is . Die geluid van ' n perd se hoewe word ook deur ' n stem nagemaak . “ Aan die jonkheid ” word gesing deur Renette Bouwer , met Charl Lamprecht wat haar op die klassieke kitaar begelei . Dit is ' n samevoeging van snitte soos “ Bamboesvlei ”, “ Goue koring goue hawer ”, “ Ek groet vir laas my gryse berge ” en ander bekende snitte wat ongelukkig nie op die omslagaantekeninge genoem word nie , en hoewel dit ' n baie lang snit is , is dit lekker om na te luister . Chris bespeel die klavier op “ Oomblik van skoonheid ”, asook op “ Waarom ?” “ Tippie tippie tin-wals ”, waarop ' n konsertina en ' n kontrabas gehoor kan word , is nog ' n hoogtepunt , en die Jarakanda-kinderkoor se vertolking is uitstekend . “ Nuwerjaar ” -seties is nog ' n lekker snit , en weer eens is Bert Botha se konsertina in die agtergrond . Wie het gesê ' n konsertina móét vir Boeremusiek gebruik word ? “ Kolperd ” is nog een van Chris se bekendste komposisies , en ' n klavier- en kooropname is ingesluit . Met verlede jaar se Varsity Sing-kompetisie het die Universiteit van Wes-Kaapland se koor vir ' n baie groot verrassing gesorg toe hulle “ Aan die Noordweste ” by hul program ingesluit het . Die koor van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria ( Affies ) se opname is egter by hierdie versameling ingesluit . Dit is ' n samevoeging van stukkies musiekmateriaal wat Chris in Namakwaland opgeteken het . Dit maak nie saak wie dit sing nie ; dit is iets baie besonders . “ Die togliedjie ”, wat deur Renette Bouwer , Marcia Otto en Nicolas Nicolai gesing word , is geïnspireer deur Chris se pa , wat transport gery het . “ Jan Piet ” is nog een van Chris se heel bekendste komposisies , en die opname van Affies se koor is hier ingesluit . Hulle sorg ook vir nog ' n hoogtepunt , naamlik “ Die Springbok ”, wat geïnspireer is deur die 1995-Wêreldbeker . Die laaste snit is “ Piet Donsie ”, nog een van Chris se komposisies wat volksbesit geword het ; die verwysings na Sharon Stone en ' n BMW het sekerlik eers later bygekom , en daar word ook na sy verjaardag verwys .
Hierdie versameling is beslis ' n móét vir enigiemand wat lief is vir koormusiek en wat al van sy komposisies of verwerkings in ' n koor gesing het .
Daantjie Dinamiet
16 Die Afrikaanse TAALSKRIF