flink Flink April 2020 - Page 7

IS DAAR NOG HOOP? Of daar nog hoop is, hang af van watter hoop jy praat. Hoop op wat, sou ek dus eers vra. Iemand sê, hy hoop dat die pandemie afplat dat ons weer “normaal” kan lewe. Maar wat is normaal? Vir die een is dit om weer normaal sy miljoene te bestuur. Vir die ander net om 'n slag uit die huis, plot of plaas te kom en groente by die mark te gaan aflewer. Vir die heel geringstes is dit om net iewers weer 'n skropwerkie met 'n graaf en hark te kry, net vir 'n brood vir een dag. Ander hoop op die herstel van die land se ekonomie, dat ons weer normaal kan invoer en uitvoer, met 'n Rand wat kan spiere maak teen die buitelandse valuta. Die meeste van ons hoop dat die vreemde virus uit Sjina, wat nou wêreldbekend geraak het, iewers sou uitwoed. Dit is 'n hoop wat gevestig is op eendag, wanneer alles weer onder beheer kan kom. Om hierop te hoop, vra geduld en emosionele energie. Dit laat ons gryp na strooihalmpies van goeie nuus. OM HOOP UIT TE DEEL Daar is egter ook 'n ander manier om hoop te hê. Dit is wanneer jy iets besit, wat jy met iemand anders kan deel. Iets wat vir jou hoop gee, wat ook vir jou naaste waarde kan hê. Daar is sulke mooi hoopgewende stories wat reeds vertel word! Om finansieel in staat te wees om jou huurders se huurgeld te halveer of af te skryf, terwyl hulle geen inkomste het nie. Of om by 'n fonds by te dra, waaruit hulp gebied kan word vir mense wat slegter af is. Maar dit lê ook op die baie naby medemenslike vlak. Baie van ons word deur die inperkingsbevel “gedwing” om tuis te bly. Vir gesinne is dit hoop-gee-tyd. Pa wat steeds pa bly en leiding neem met die praktiese dinge in en om die huis. Wat geselstyd kry met sy tienerdogter oor haar drome wat dreig om aan flarde te skeur. Ma wat nie nou douvoordag moet kinders aflaai by die skool en werk toe jaag, om eers vanaand met 'n skuldige gewete en stokflou aan Sannie en Jannie se skoolopdragte moet aandag gee nie. Tyd is kosbaar. Daarvan het ons nou, sodat ons kan hoop gee deur te deel. Saam te beplan hoe die dag sinvol by die huis deurgebring word. Ma kan nou ma wees, daar wees vir die kinders. Rustiger wees. Steek op daai kersies van hoop! Met al ons kommunikasiemetodes kan ons positief betrokke wees by hulle wat eensaam is. Sonder om fisies daar te wees. Beheers egter jou boodskappe. Moenie fopnuus en die slegste nuus oor die invloed van Covid-19 aanstuur nie. Daarvan is daar reeds te veel. Ja, ons het dalk eerder 'n infodemie as 'n pandemie! Gesels eerder, vertel stories, dra humor oor, beur op, leef mee. HOOP VAN HOM WAT STANDVASTIG IS Gepraat van positiewe boodskappe, gaan die gedagtes na ons hemelse Vader. Vir dié wat glo, bly die spesiale kommunikasiekanaal na Hom oop. Ongelukkig is daar ook kansvatters wat sy beloftes verdraai en hoop verkondig, wat soos 'n seepbel bars as dit in die atmosfeer van die werklikheid losgelaat word. Weeg dit eers! Tog is die Woord van God eintlik in die geheel 'n boodskap van hoop. Ons weet dat alles hopeloos sou wees indien die Skepper ons aan ons eie lot oorgelaat het na die sondeval in die tuin van Eden. Maar die werklikheid is, dat ons leef in 'n bedeling van werk dat die sweet loop en dorings en distels, virusse en pandemies wat uitdagings bring. Tog het die almagtige God besluit om 'n Vader vir mense te wees. Nie 'n tiran wat straf nie, maar daardie Iemand wat krag gee om deur die woestynsand te stap, wat ons koppe bo hou in stormwater, wat oë oopmaak om verder as die horison te sien. Vir die vroeë gelowiges in die stad Rome was daar min hoop. Verwerping uit die “vakbonde” en werkloosheid, verlies van vriende wat nie saam op die spore van Jesus begin loop nie, diskriminasie teen elkeen wat nie Romeinse burgerskap het nie. Dan die wreedste vervolging wat losgebreek het onder magsbehepte keisers. In daardie tye waar hoop skaars geraak het, stuur die Vader deur sy apostel Paulus 'n brief aan die Romeine. En die Gees het bepaal dat die brief eeue lank ook vir ons bewaar is. Daarin lees ons onder andere: “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees” (Romeine 15:4). Is die hooplose tyd nie juis tyd om weer die Skrif aandagtig te lees nie? God self is daarin aan die woord. Hy is die bron van standvastigheid en hoop. Hierdie hoofstukke in Romeine moedig aan tot eensgesindheid, om die swakkere in ag te neem, om soos Jesus die minste te wees. Dit is nou tyd om by die klein verskille tussen mense verby te kyk en ons een God en Vader te vereer, sy wil te soek en sy liefde uit te dra. Is die feit dat die koronavirus almal aanval, ongeag status, ras of inkomste, nie genoeg rede dat ons die hoop wat doelbewus in God se Woord opgeteken is met mekaar moet deel nie? Leef dit uit, vertel daarvan. Moenie selfsugtig net vir jou eie oorlewing veg nie. Die vreugde lê veral in breër te kyk en te reik as normaalweg. Die God van standvastigheid en hoop, is steeds in beheer. Sy raadsplan om alles na die heerlikheid te lei, wanneer Christus alles sal wees en in almal, word nie deur sulke pandemies en ellende gekeer nie. Inteendeel, Hy het juis vooruit gesê dat dit deel van die pad is wat die wêreld sal moet loop. In 'n groot mate is hierdie ellende oor die hele aardbol vir ons 'n wakker skud dat ons nie in beheer is nie. Ons moet na ons prioriteite kyk. Leef ons nie in die geheel te veel vir onsself nie? Het sport en plesier nie 'n te groot rol begin speel vir hulle wat dit kan bekostig nie? Hoeveel sport en luukse vaarte het nie in die slag gebly nie? Dinge wat die oorgrote deel van die mensdom nooit aan deelneem nie. Kom ons vestig ons hoop op Hom, wat die Skrif gegee het sodat ons kan leer. Leer om met 'n perspektief vanuit God se pad met mense na mekaar om te sien. Om daardie liefde wat nooit vergaan nie, sigbaar te maak in ons optrede teenoor die naastes en verstes. So groei ons eie hoop, straal ons lig uit en oorleef met die sekerheid van die ewige lewe. Callie Opperman – Netwerk vir Afrikanerbelange in Namibië (Swakopmund) AFRIKAANS 7