flink Flink April 2020 - Page 17

om die skaal in hulle guns te swaai nie. Hans Lötter was 'n Kapenaar wat voor die oorlog 'n tyd lank in die Vrystaat deurgebring het en hom met die uitbreek van die oorlog by die Boere aangesluit het. Hy was later deel van 'n groep Boere wat onder leiding van genl. PH Kritzinger die Kaap binnegeval het. Hy het homself so onderskei dat hy later die rang van kommandant gekry het. Pieter Wolfaardt was ook 'n Kapenaar wat aan Boerekant geveg het. Hy was 'n onverskrokke vegter wat blykbaar 'n paar Engelse op kort afstand doodgeskiet het. Lötter (26) en Wolfaardt (32) was albei deel van 'n groep Boere wat op 'n reënerige nag in 'n skuur op 'n plaas teen die weer geskuil het en wat die volgende oggend daar deur die Engelse verras is. 'n Hele klompie mans aan albei kante het daar gesneuwel. Lötter en Wolfaardt is gevange geneem en as Kaapse rebelle van hoogverraad aangekla. Lötter, so word vertel op monumente- sa.co.za, het vergeefs aangevoer dat hy Vrystaatse burgerskap gekry het. Hy kon dit egter nie bewys nie. Die Britse owerhede aan die Kaap wou uiteraard enige verdere rebellie ontmoedig en daarom is Lötter en Wolfaardt albei ter dood veroordeel. Die vonnis is in die openbaar op die plein in Middelburg voorgelees waar die hele dorp dit moes aanhoor. Op 12 Oktober 1901 is Lötter buite die dorp op 'n stoel vasgebind en doodgeskiet. Drie dae later is dieselfde met Wolfaardt gedoen. Die stoelmonument is van klip gebou op die plek waar die twee mans tereggestel is. Op die monument is daar onder meer 'n uitbeelding van 'n riempiestoel. Verskriklike tye kom in verskillende eras op verskillende maniere. Neels Jackson AFRIKAANS 17