flink Flink April 2020 - Page 13

te plaas en hierdie het vir my so 'n bietjie opportunisties gevoel. Boonop het ek geweet dit gaan nie perfek wees nie, dis vanuit my huis met beperkte klank en ander uitdagings en sal om daardie rede 'n waagstuk wees. Toe ek my man bel en sê ek twyfel of ek dit moet doen, het hy my net daar kortgeknip. 'Nonsens, ons sal almal ons deel moet doen in hierdie moeilike tye,' het hy gesê en ek het besluit om voort te gaan. Op die ou end het ek wonderlike terugvoer gekry, en nou is ek bly dat ek op hierdie manier so 'n bietjie lig in die donkerte kon instuur.” Laurinda vertel dat sy die tydperk van inperking as 'n geskenk beskou. Daar is soveel administratiewe take wat agterweë gebly het en waaraan sy moet aandag gee. In haar huis is daar ook te veel dinge buite plek en dit alles lê haar 'n bietjie lam. Hierdie tyd sal sy nuttig gebruik om orde te skep. Sy glo ook dat daar later kans sal wees om kreatief te raak. Soos met enige ander vakansie is 'n mens in die eerste week net te moeg is om enigiets te doen. Teen die tweede week begin jy meer normaal reageer, en in die derde week van jou vakansie dink mens nuwe dinge uit. Sy sal stellig dan inspring en nuwe melodieë skep, sê sy. Laurinda, wat in Witsieshoek grootgeword het, vertel sy het vroeër vanjaar die geleentheid gekry om op die dorpie Van Reenen, nie te ver daarvandaan nie, 'n huiskonsert te gaan hou. Hierdie was 'n heerlike ervaring en iets wat sy voortaan meer dikwels sal wil doen. “Dié aand was daar heerlike kos, 'n kunsuitstalling en ek het 'n konsert gehou. Hulle sê mos altyd die drie K's is 'n waarborg vir sukses: Kos, Kuns en Konsert. Dan kom die vierde K sommer outomaties – die lekker Kuier. Na afloop van my konsertjie het almal net om die beurt die mikrofoon kom haal en heerlik saamgesing. Die 35 mense wat die aand daar was, het almal gesê hoe hulle dit geniet het,” sê sy. Soos met enigeen in die vermaaklik- heidsbedryf, raak die impak van die koronavirus ook die manier waarop sy haar botter en brood verdien. Benewens haar musiekkonserte by kunstefeeste en in teaters, is sy ook deel van die musiekbediening by die Paarlvallei NG Kerk. Tans kan dit nie voortgaan weens die inperking nie. Sy is dus besonder dankbaar oor Jantjie, haar man wat 'n mediese dokter by Tygerberg is, se vaste inkomste. Vir Laurinda, was die FAK-toekenning vir Besondere Kultuurprestasie wat sy in 2008 ontvang het, 'n wonderlike kopknik om te sê dit waarmee sy haar besig hou, is die moeite werd. Sy vier vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf en haar heel eerste CD, Perd oor die Maan het in 2000 verskyn. “'n Toekenning soos daardie laat 'n mens net weer besef die musiek wat jy maak, het tog waarde. 'n Mens het altyd hierdie ding in jou kop dat as iets waardevol is, gaan jy seker geld daarvoor ontvang. Party goed werk ongelukkig nie so nie. Ek maak vir 'n nismark musiek en daarom is 'n toekenning soos dié van die FAK 'n riem onder die hart. Dit is weer 'n wonderlike aanmoediging om aan te hou doen wat ek doen.” “'n Mens mag nooit ophou droom nie, selfs nie eers wanneer die wêreld rondom jou tot stilstand gekom het nie,” sê sy beslis. “My grootste droom is om besig te bly met die dinge waarmee ek tans besig is totdat ek ten minste 80 jaar oud en in die ouetehuis is. Die paar jaar wat ek by die kerk se musiekafdeling betrokke geraak het, het ek weer bewus geword van hoe belangrik die gemeenskap is en hoe lekker dit is om 'n bydrae tot die gemeenskap te maak. Mense kom kerk toe en sing en geniet dit. Jy doen iets moois en dis gesond vir mense om te sing. Dit maak die selle in hul lyf gelukkig. Ek is so dankbaar dat ek nie meer soos in my jonger dae, bedreig voel deur die gemeenskap en wat hulle van my en my musiek mag dink nie. Ek wil voortaan ook meer huiskonserte doen en aktief besig bly tot my oudag. Om iemand anders se poësie te neem, daardeur te lees en uiteindelik in my kop te hoor hoe die musiek daarvoor moet klink, is altyd lekker. Om dit dan uiteindelik met ander te deel, is 'n wonderlike voorreg!” Alita Steenkamp KLIK en kyk hier AFRIKAANS 13