IS DAAR NOG HOOP?
Of daar nog hoop is, hang af van
watter hoop jy praat. Hoop op wat, sou
ek dus eers vra. Iemand sê, hy hoop
dat die pandemie afplat dat ons weer
“normaal” kan lewe. Maar wat is
normaal? Vir die een is dit om weer
normaal sy miljoene te bestuur. Vir die
ander net om 'n slag uit die huis, plot of
plaas te kom en groente by die mark te
gaan aflewer. Vir die heel geringstes is
dit om net iewers weer 'n skropwerkie
met 'n graaf en hark te kry, net vir 'n
brood vir een dag. Ander hoop op die
herstel van die land se ekonomie, dat
ons weer normaal kan invoer en
uitvoer, met 'n Rand wat kan spiere
maak teen die buitelandse valuta. Die
meeste van ons hoop dat die vreemde
virus uit Sjina, wat nou wêreldbekend
geraak het, iewers sou uitwoed.
Dit is 'n hoop wat gevestig is op
eendag, wanneer alles weer onder
beheer kan kom. Om hierop te hoop,
vra geduld en emosionele energie. Dit
laat ons gryp na strooihalmpies van
goeie nuus.
OM HOOP UIT TE DEEL
Daar is egter ook 'n ander manier om
hoop te hê. Dit is wanneer jy iets besit,
wat jy met iemand anders kan deel.
Iets wat vir jou hoop gee, wat ook vir
jou naaste waarde kan hê. Daar is
sulke mooi hoopgewende stories wat
reeds vertel word!
Om finansieel in staat te wees om jou
huurders se huurgeld te halveer of af te
skryf, terwyl hulle geen inkomste het
nie. Of om by 'n fonds by te dra,
waaruit hulp gebied kan word vir
mense wat slegter af is. Maar dit lê ook
op die baie naby medemenslike vlak.
Baie van ons word deur die
inperkingsbevel “gedwing” om tuis te
bly. Vir gesinne is dit hoop-gee-tyd. Pa
wat steeds pa bly en leiding neem met
die praktiese dinge in en om die huis.
Wat geselstyd kry met sy tienerdogter
oor haar drome wat dreig om aan
flarde te skeur. Ma wat nie nou
douvoordag moet kinders aflaai by die
skool en werk toe jaag, om eers
vanaand met 'n skuldige gewete en
stokflou aan Sannie en Jannie se
skoolopdragte moet aandag gee nie.
Tyd is kosbaar. Daarvan het ons nou,
sodat ons kan hoop gee deur te deel.
Saam te beplan hoe die dag sinvol by
die huis deurgebring word. Ma kan nou
ma wees, daar wees vir die kinders.
Rustiger wees. Steek op daai kersies
van hoop!
Met al ons kommunikasiemetodes kan
ons positief betrokke wees by hulle wat
eensaam is. Sonder om fisies daar te
wees. Beheers egter jou boodskappe.
Moenie fopnuus en die slegste nuus
oor die invloed van Covid-19 aanstuur
nie. Daarvan is daar reeds te veel. Ja,
ons het dalk eerder 'n infodemie as 'n
pandemie! Gesels eerder, vertel
stories, dra humor oor, beur op, leef
mee.
HOOP VAN HOM WAT
STANDVASTIG IS
Gepraat van positiewe boodskappe,
gaan die gedagtes na ons hemelse
Vader. Vir dié wat glo, bly die spesiale
kommunikasiekanaal na Hom oop.
Ongelukkig is daar ook kansvatters wat
sy beloftes verdraai en hoop verkondig,
wat soos 'n seepbel bars as dit in die
atmosfeer van die werklikheid losgelaat
word. Weeg dit eers! Tog is die Woord
van God eintlik in die geheel 'n
boodskap van hoop. Ons weet dat
alles hopeloos sou wees indien die
Skepper ons aan ons eie lot oorgelaat
het na die sondeval in die tuin van
Eden. Maar die werklikheid is, dat ons
leef in 'n bedeling van werk dat die
sweet loop en dorings en distels,
virusse en pandemies wat uitdagings
bring.
Tog het die almagtige God besluit om
'n Vader vir mense te wees. Nie 'n tiran
wat straf nie, maar daardie Iemand wat
krag gee om deur die woestynsand te
stap, wat ons koppe bo hou in
stormwater, wat oë oopmaak om
verder as die horison te sien.
Vir die vroeë gelowiges in die stad
Rome was daar min hoop. Verwerping
uit die “vakbonde” en werkloosheid,
verlies van vriende wat nie saam op die
spore van Jesus begin loop nie,
diskriminasie teen elkeen wat nie
Romeinse burgerskap het nie. Dan die
wreedste vervolging wat losgebreek
het onder magsbehepte keisers. In
daardie tye waar hoop skaars geraak
het, stuur die Vader deur sy apostel
Paulus 'n brief aan die Romeine. En die
Gees het bepaal dat die brief eeue lank
ook vir ons bewaar is. Daarin lees ons
onder andere: “Alles wat vooraf in die
Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om
ons te leer sodat ons deur die
standvastigheid en bemoediging wat
die Skrif ons gee, vol hoop kan wees”
(Romeine 15:4). Is die hooplose tyd nie
juis tyd om weer die Skrif aandagtig te
lees nie? God self is daarin aan die
woord. Hy is die bron van
standvastigheid en hoop. Hierdie
hoofstukke in Romeine moedig aan tot
eensgesindheid, om die swakkere in
ag te neem, om soos Jesus die minste
te wees. Dit is nou tyd om by die klein
verskille tussen mense verby te kyk en
ons een God en Vader te vereer, sy wil
te soek en sy liefde uit te dra. Is die feit
dat die koronavirus almal aanval,
ongeag status, ras of inkomste, nie
genoeg rede dat ons die hoop wat
doelbewus in God se Woord
opgeteken is met mekaar moet deel
nie? Leef dit uit, vertel daarvan. Moenie
selfsugtig net vir jou eie oorlewing veg
nie. Die vreugde lê veral in breër te kyk
en te reik as normaalweg.
Die God van standvastigheid en hoop,
is steeds in beheer. Sy raadsplan om
alles na die heerlikheid te lei, wanneer
Christus alles sal wees en in almal,
word nie deur sulke pandemies en
ellende gekeer nie. Inteendeel, Hy het
juis vooruit gesê dat dit deel van die
pad is wat die wêreld sal moet loop. In
'n groot mate is hierdie ellende oor die
hele aardbol vir ons 'n wakker skud dat
ons nie in beheer is nie. Ons moet na
ons prioriteite kyk. Leef ons nie in die
geheel te veel vir onsself nie? Het sport
en plesier nie 'n te groot rol begin speel
vir hulle wat dit kan bekostig nie?
Hoeveel sport en luukse vaarte het nie
in die slag gebly nie? Dinge wat die
oorgrote deel van die mensdom nooit
aan deelneem nie.
Kom ons vestig ons hoop op Hom,
wat die Skrif gegee het sodat ons kan
leer. Leer om met 'n perspektief vanuit
God se pad met mense na mekaar
om te sien. Om daardie liefde wat
nooit vergaan nie, sigbaar te maak in
ons optrede teenoor die naastes en
verstes. So groei ons eie hoop, straal
ons lig uit en oorleef met die sekerheid
van die ewige lewe.
Callie Opperman
– Netwerk vir Afrikanerbelange
in Namibië (Swakopmund)
AFRIKAANS
7