Agri Kultuur October / Oktober 2015 | Page 57

gereedskapskassies van elke deelnemer aangetref word nie. Die nasionale kampioenskappe het afgeskop met ‘n spesiale verwelkoming aan die deelnemers en bedanking van die Williston gemeenskap asook die onderskeie borge van die geleentheid. Die verskillende spanne het ook die geleentheid gekry om in hul provinsiale kleure en met hul baniere hulself aan die toeskouers op die skoupaviljoen bekend te stel – ‘n optog soos wat jy by ‘n geleentheid van hierdie formaat sal verwag. Die volgende dag of drie was dit die beoordelaars se kans om kop te krap in die Namakwaland se son want die kompetisie was straf en die keuses moeilik - dis tog immers die beste van die bestes wat hier kom deelneem het en om ‘n nasionale kampioen te identifiseer sit nie in enige ou (of vrou!) se broek nie. Nietemin het die beoordelaars hul uitstekend van hul taak gekwyt en is die ware kampioene uiteindelik aangewys. Groot opgewondenheid het, soos verwag kan word, by elke deelnemer die aand van die prysuitdeling geheers want, jy weet nie voor die tyd hoeveel punte jy verdien het nie aangesien die groottotale van elke deelnemer se onderskeie items gebruik word om die uiteindelike medalje- en sertifikaatwenners aan te wys. So het menige deelnemer soms totaal onverwags ‘n toekenning ontvang en was daar etlike verbaasde uitdrukkings op sommige gesiggies te sien. Of dit nou wen of verloor beteken, jeugskou se gewildheid neem by die dag toe en geleenthede soos hierdie gee aan ons kinders die geleentheid om nuwe vriende te ontmoet, te netwerk. Soos Breyton Milford (Voorsitter van die Wes-Kaap Jeugskou en ondervoorsitter van die Nasionale Jeugskouvereniging) dit stel: “Ek dink dit is soveel te meer belangrik vir kinders om in vandag se tyd met diere te werk, vaardighede en respek vir mens en dier aan te leer. Die jeug van vandag is honger om met diere te werk, want die gaping tussen die plaas en die stad/dorp raak by die dag groter.