Agri Kultuur October / Oktober 2015 | Page 24

Snywurms Snywurms vreet jong saailinge op die grondvlak af en beskadig die ondergrondse stamme van ouer saailinge deur ’n netjiese, skoon gat daarin te vreet. Die wurms word die beste beheer wanneer grondtoegediende insekdoders, soos piretroïede, op ’n klam grondoppervlakte gespuit word. Wanneer die bogrond droog is, bly snywurms onder die grond en aangesien piretroïede nie eintlik die grondoppervlakte binnedring nie, sal die snywurms dan nie met die produk in aanraking kom nie. Die gevolg is swakker beheer en saailinge wat onder die grond beskadig word. Die hele piretroïedgroep van middels is ligsensitief en word vinnig deur sonlig afgebreek. Dit benadeel residuele snywurmbeheer. Aangesien die formulasie van Syngenta se KARATE ZEON® 10 CS relatief UVbestand is, bied dit die produsent langer beheer teen snywurms. Stamboorders en stronkboorders (Chilo partellus en Basseola fusca) Larwes voed in die mielieplant se kelk en vreet soms regdeur die kelkrol. Hulle beskadig die mieliestamme deur aan die kante in te boor en tonnels aan die binnekant vreet. Larwes in die tweede en derde larwale stadium kan ook skade aan die koppe veroorsaak. Dit kan lei tot sekondêre swam-infeksies, wat weer aanleiding gee tot ’n afname in die kwaliteit van graan en die verswakking van ander plantdele. Stronkboorderbeheer moet vroegtydig toegepas word, voordat die larwes só diep in die mieliekelk ingegrawe het dat bestaande produkte hulle nie kan bereik nie. Toedienings moet gemaak word wanneer 5% tot 10% bokhaelskade waargeneem word. Verminderde bewerkingspraktyke, waar stronke nie ingeploeg word nie, help stronkboorders om meer suksesvol te oorwinter en hoër infestasies kan dan verwag word. Onder sulke omstandighede moet monitering meer gereeld gedoen word.