Agri Kultuur October / Oktober 2015 | Page 16

Artikel deur Hans Lombard T wee van die mees tegnologies gevorderde presisie-mieliesaadplanters – enig in hul soort in SuidAfrika – is deur Monsanto aangeskaf om saadmielies doeltreffender, akkurater en meer kosteeffektief te plant. Die belegging van R11 miljoen behels twee Monosem 17-ry en twee 3-ry lugdrukplanters, sowel as twee Case 290 NX agtwielaangedrewe trekkers van 212 kW. Met dié nuwe tegnologie kan die mannetjie- en wyfiesaad nou met dieselfde planter gelyktydig geplant word volgens behoefte. Die planter plant elke pit sekuur sonder om een oor te slaan. Voorheen is twee verskillende planters gebruik om rye mannetjie- en wyfiesaad te plant. Eers is die wyfiesaad met een planter, gevolg met die mannetjiesaad met ’n ander planter, geplant. “Met dié nuwe tegnologie, die eerste in sy soort in saadproduksie, het ons 17 een-ry planters op een balk waar ons elke ry onafhanklik kan beheer en monitor in die kajuit van die trekker. Nou kan ons die mannetjiesaad gelyktydig tussen die wyfiesaad rye plant. Dit gee ons ’n wyfie oppervlakte van 100%. Met die tradisionele manier het ons slegs 83% wyfiesaadoppervlakte gekry. Dit is baie meer kosteeffektief om groter hoeveelhede saad in minder tyd te produseer, teen ’n hoër opbrengs, om te voldoen aan die toenemende binnelandse en uitvoer vraag na ons saad,” sê Lukie van der Merwe, bestuurder veldbewerkingstoerusting van Monsanto. Die planter het geen kettings of bande om die verskillende funksies aan te dryf nie. Alle funksies word hidroulies beheer. Die plantestand kan, terwyl die planter beweeg, aangepas word, wisselend van 15 000 tot 115 000 plante/ha. Rywydtes is 76 cm. Gemiddeld 40ha/ dag word geplant. Op ’n goeie dag kan tot 70-80 ha geplant word. Om meer stuifmeel te produseer, word die twee 3-ry planters ingespan om vyf dae na die eerste aanplanting weer mannetjiesaad te plant. Die trekkerbestuurders is deur Monsanto opgelei om die hoogsingewikkelde presisiemonitor in die kajuit te interpreteer wat elke funksie op die planter – toediening van saad, kunsmis en plaagbeheermiddels – sowel as plantestand monitor. Met GPS-tegnologie hou die trekker self pylreguit koers. Voordat daar met die plant begin word, word daar om die land gery om die grense op die monitor vas te lê. Die planter is ook so geprogrammeer dat wanneer daar op die grens gedraai word, planterbakke een vir een afgeskakel word om nie saad te mors nie. Vir meer besonderhede skakel Lukie van der Merwe 082 388 0200. Een van die twee 17-ry Monosem presisieplanters met die Case 290 NX 212 kW trekker. Foto: Lukie van der Merwe