Agri Kultuur June/July 2013 | Page 23

Vooruitskouing vir landbou sal alle fasette in bedryf aanspreek

Die AMT Suid-Afrikaanse agri-vooruitskouingskonferensie vind vanjaar op 30 September by die WNNR-konferensiesentrum in Pretoria plaas. Vanjaar se tema is: Globale en Suid-Afrikaanse Landbou: Plan tot Aksie 2014.

Tydens dié konferensie word gekyk na verskillende onderwerpe, want nie net die plaaslike mark nie, maar ook die internasionale mark se invloed op die grootliks onbeskermde Suid-Afrikaanse landboubedryf word bespreek.

Produsente, afgevaardigdes van produsente-organisasies, banke,

universiteite, regeringsbesluitnemers en agribesighede woon dit by.

Dr. Roelof Botha, bekende ekonoom, is die programleier van die ekonomiese vooruitskouing vir 2014, terwyl Theo Venter van die Noordwes Universiteit, die politieke vooruitskouing sal behartig.

Die tema van Johan van den Berg se toespraak is: Weervooruitskouing 2014 en hoe die klimaatsverandering landbou beïnvloed in Suid-Afrika. Johan se aanbieding word jaarliks deur veral produsente gesien as een van hoogtepunte van die konferensie en daar word swaar op sy gevolgtrekkings

rakende reënverwagtings vir die komende somer gesteun in die beplanning van hulle plantaktiwiteite vir die nuwe seisoen.

Die bekende Clem Sunter sal die megatendense van die 21ste eeu en hul uitwerking op die landbou bespreek, terwyl Thad Simons, hoof- uitvoerende

beampte van Novus Internasionaal en president van die Internasionale

Agribesigheidbestuursliggaam, se toespraak se tema is: Talent: die mees

algemene en noodsaaklike denominator in die voedselwaardeketting.

Een van die hoogtepunte van vanjaar se program sal die paneelbespreking wees met die TV-aanbieder, Jeremy Maggs, as sameroeper. Dr. Theo de Jager van Agri SA en ander rolspelers sal die grondhervormingskwessie en die invloed op voedselsekuriteit in die toekoms van Suid-Afrika bespreek.

Nog 'n punt van bespreking is die minimumloonkwessie en hoe dit

beleggings in Suid-Afrika sal beïnvloed, met dr. John Purchase van die

Landboubesigheidskamer en ander sprekers wat 'n debat sal voer.

Die donker kant van voedselsekuriteit sal bespreek word deur Pieter Esterhuizen van Senwes. Dr. Ferdinand Meyer van BFAP aan die Universiteit

Pretoria sal die internasionale en plaaslike vooruitskouing bespreek vir

2014 van grane en oliesade.