Agri Kultuur July / Julie 2016 | Page 36

Prof Hennie Snyman Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde UNIVERSITEIT VAN DIE VRYSTAAT A lhoewel ontblaring van weiplante as normale verskynsel binne die funksionering van die weidingekosisteem beskou kan word, moet dit tog met omsigtigheid hanteer word, aangesien dit die produktiwiteit van die weidingekosisteem aansienlik kan beïnvloed. Hier word veral die intensiteit (hoe straf) en frekwensie (hoe gereeld) van ontblaring bedoel. Wortelstelsels by weiplante herstel nie naastenby teen dieselfde tempo as die bogrondse plantdele na ‘n brand of beweiding nie. ‘n Veel langer rustyd as wat op die oog af nodig lyk, kan dus vereis word. Sou dit nie toegelaat word nie, sal veld met swak verspreide wortelstelsels ‘n boer des te meer aan droogte uitlewer. Hoe strawwer en meer gereeld die weiplant ontblaar word, hoe groter is die afname in wortelmassa (Foto 1). Kort ontblaarde plante is dus langer aangewese op die onttrekking van groei­reserwes vir hergroei. Dieselfde geld vir gereelde ontblarings waar die wortelmassa ook afneem en die fabriek (blare) van die plant nie die nodige rus kry om optimaal te kan herstel nie. Daar word dus soms verkeerdelik geredeneer dat weiplante van tyd tot tyd wel straf ontblaar moet word ten einde toe te laat vir voldoende wortelafsterwing om sodoende die organiese materiaal (humus) in die grond weer aan te vul. Wortelafsterwing vir humusaanvulling in die grond is ‘n natuurlike proses wat seisoenaal gekoppel is en word ook deur die klimaat beïnvloed. Met droogte tye is wortelafsterwing groter as wanneer optimale groei toestande voorkom. Die blote afname in wortelmassa weens intensiteit en frekwensie van ontblaring is van minder belang as die feit dat wortelgroei deur ontblaring vertraag word. Indien 80 tot 90% van byvoorbeeld ‘n klimaksplant in die droër dele se blaaroppervlakte verwyder word, kan dit ‘n totale staking in wortelgroei van so lank as 12 tot 17 dae meebring. Ontblaring van 60 tot 70% laat wortel-groei vir ‘n paar dae gedeeltelik staak, terwyl 40 tot 50% se ont­blaring wortelgroei net vertraag, maar nie heeltemal laat ophou nie. Die graad van benutting van ‘n weiplant het dus ‘n direkte invloed op wortelontwikke­ling, en gevolglik op die hergroei van die bogrondse komponent. Indien die plant baie straf ontblaar word is dit lank aangewese op die onttrekking van groeireserwes wat in die stoppels en wortelbasisse gestoor word vir gebruik in hergroei. Die weerstand van so 'n plant om droogtetoestande en herhaalde ontblarings te oorleef is dus baie laag. So ‘n plant sal ook moeilik vir water en plantvoedingstowwe vanuit die grond kan kompeteer met nie-ontblaarde plante. Die verhouding tussen die graad van benutting tussen plante word deur die dier se voorkeure bepaal. Nadat ‘n kamp, met ‘n laer drukbeweidingsbenadering benut is, sal smaakliker plante maksimaal ontblaar wees, terwyl die persentasie ontblaring van onsmaaklike plante laer sal wees. Minder ontblaarde plante se kompeteervermoë sal dus sterker wees vir voedingstowwe en water as die straf ontblaardes. Die lengte van die rusperiode moet dus lank genoeg wees sodat die groeireserwes van smaaklike plante weer aangevul kan word voor die daaropvolgende ontblaring. ‘n Ander beginsel is om die smaaklike plante net tot so ‘n mate te ontblaar dat dit so gou moontlik weer normaal kan fotosinteer en so kort moontlik aangewese is op die onttrekking van groeireserwes vanuit die wortels vir hergroei. Gedurende die lente­maande, wanneer die fabriek (blaaroppervlakte) van die plant nog nie optimaal funk­sioneer nie, is die plant aangewese op groeireserwes vir bot en hergroei. Tydens hierdie periode is die plant vatbaar vir oorbeweiding (indien te lank in kamp gebly word) en moet sorg