Agri Kultuur Julie / July 2014 | Page 6

Alfa & Omega Lukas bring hoop Almal se verhale eindig nie met hoop nie. Party mense se hele lewensloop skets eerder wanhoop as hoop. Tog hou ons almal van die sprokiesverhale van die prins en die prinses wat mekaar ontmoet en vir ewig en altyd gelukkig saamleef. Ons hou van goeie eindes wat vir altyd aanhou, want ons sien en ervaar genoeg seer en siekte in hierdie lewe. Lukas was 'n geleerde man. Vermoedelik was hy die dokter wat saam met Paulus gereis het. Wat ek van Lukas hou, is sy doelbewuste keuse om sy verhaal van Jesus se lewensverloop nie in die lug te laat hang nie. Hy sluit sy verhaal nie af met 'n vasgelooptheid nie. Lukas se verhaal eindig met hierdie vertelling: Die opstanding van Jesus Christus bring hoop vir sondaars en mense in vasgeloopte situasies. God laat sy mense nie in die steek nie, maar dra hulle deur hulle pyn heen en hef hulle op. Jesus se hemelvaart neem Hom nie van ons af weg nie, maar maak die sirkel van versorging groter. Nou is Hy in die hemel by God waar Hy ons mensheid verteenwoordig. En Hy het die Gees aan ons gestuur sodat daar iets van die Godheid in ons kan wees. Dit is ons hoop. God is by ons, vir ons, in ons. Om met hoop te leef is om verder as die aardse ellendes te kyk tot by die bedoeling van God met sy mense. (Uit: Die Gees van 'n Arend – Jannie le Roux) Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys. Lukas 24:50-53