Agri Kultuur Julie / July 2014 | Page 52

Deur Arnand Stofberg D ie aankoop of verkoop van ‘n plaas is een van die moeilikste transaksies wat ‘n produsent ooit in sy lewe sal doen, en wel as gevolg van die volgende redes.  Die groot bedrae geld wat ter sprake is.  Dis ‘n soort transaksie wat die meeste produsente net 1 of 2 keer in hul lewe doen en waarvan hulle dus min ondervinding het.  Geen 2 plase is dieselfde nie wat dit moeilik maak om vorige transaksies as ‘n maatstaf te gebruik.  Daar is baie unieke wetgewing rondom die vervreemding van landbougrond.  Die koop of verkoop van ‘n plaas is dikwels ‘n emosionele proses waar emosies soms die oorhand kry oor gesonde verstand.  Daar is groot belasting implikasies vir beide die verkoper en die koper. Dit is dus raadsaam om van die begin af van kundiges (rekenmeesters en prokureurs) gebruik te maak om jou te help met die hele proses. In kort is die belangrikste punte wat spesifieke aandag verg die volgende: Kommissie Eiendomsagente vra tot soveel as 7.5 % kommissie wat die verkoper se opbrengs afwater of die koper se prys opjaag. Probeer altyd eers kyk of jy nie ‘n privaat transaksie kan doen nie. Indien jy wel van ‘n agent gebruik maak moet jy vooraf onderhandel oor die kommissie en dit op skrif stel. Waardasie Laat doen ‘n deeglike waardasie van die eiendom met stawende dokumente van oeste, hektare, waterregte, geboue ens. Onthou dat bankwaardasies neig om konserwatief te wees. Verwante partye By verkope tussen pa en seun moet daar onthou word dat die prys ten minste 70% van markwaarde moet wees om geskenkebelasting te vermy. Fisiese inspeksie Dit is altyd goed as die koper self die plaas kan deurry om te kyk of daar nie ooglopende gebreke is wat nie deur die waardasie in berekening gebring is nie. Buurmanne is ook ‘n goeie bron van inligting. Strukture Dit is belangrik om vooraf deeglik te besin in watter besigheid-strukture die plaas gekoop en bedryf gaan word aangesien dit aansienlike implikasies kan hê wat betref belasting, verkryging van fondse, persoonlike aanspreeklikheid en kontinüiteit. Onderhandelings Dit is baie belangrik om vooraf jou uitstapprys te bepaal en dan daarby te hou. Onderhandelinge is ‘n proses van gee en neem en om die transaksie te beklink moet jy dikwels toegewings maak, maar dit bly belangrik om altyd te weet waar jy moet stop.