Agri Kultuur Julie / July 2014 | Page 31

vermoë te handhaaf onder hoë plantestand. Die agtergrond van die basters is veral “cornbelt” materiaal wat in die VSA geteel is om in ʼn kort groeiseisoen, voor dit sneeu, stroopgereed te wees. So in daardie opsig het die genetiese plantmateriaal en die virus nooit s aam ontwikkel nie (onthou die virus kom net in Afrika en nie in die VSA voor nie), en het daar nie ʼn natuurlike seleksie vir toleransie oor baie jare in die materiaal plaasgevind nie. ʼn Konsentrasie van hierdie tipe mieliebasters in ʼn gebied sal ook natuurlik dan bydra tot die opbou van siekte en ideale epidemiese toestande. Speel die toestande waaronder die vinnige mieliebasters verbou word ʼn rol in die voorkoms van MSV? Ja, hierdie basters word gewoonlik in sekere areas onder besproeiing geplant wat ideale toestande skep vir die oorlewing van die bladspringer en geskikte toestande skep vir gashere waarop die virus en insekte kan oorleef. Die hoë temperature in die besproeiingsgebiede en die mikroklimaat wat die besproeiing skep is ook ideaal vir die bladspringers en siekteontwikkeling. Is die chemiese beheer daarvan dan anders as ander mieliesiektes? Meeste van die algemene mieliesiektes word deur swamme veroorsaak en kan hierdie siektes tot ʼn mindere of meerdere mate bestuur of beheer word met geregistreerde swamdoders (bespuitings of saadbehandelings). MSV is egter anders en is daar GEEN chemiese produk wat die virus opsigself kan beheer nie. Die chemiese beheerstrategie berus dus op insekdoders wat die bladspringer verhoed om te voed en die siekte oor te dra. Dit maak in alle opsigte die beheer van siekte nie net baie anders nie maar ook meer kompleks. Hierdie beheerstrategie moet poog om die piek periode van migrasie te dek wanneer gewasse jonk is en die risiko groot is. Watter produkte beheer die bladspringer? Die vektor kan deur die toediening van sistemiese insekdoders soos carbofuran (bv. Curaterr) in die plantvoor tydens aanplanting van mielies beheer word. In Suid-Afrika is daar ʼn paar saadbehandelingsregistrasies effektief teen die bladspringers, dit sluit gewoonlik verhoogde dosisse van produkte soos imidchorprid (bv. Gaucho), thiamethoxam (bv. Cruiser) en clothianidin (bv. Poncho) in. In die PANNAR SAAD ultravinnige mieliebasters word Poncho teen ʼn verhoogde dosis (PonchoPro) as standaard saam met ʼn swamdoder en ʼn polimeer op die saad toe- gedien. Hierdie vooraf fabrieksbehandeling van die produkte is essensieel in terme van rentmeesterskap. Indien hierdie produkte nie reg toegedien word, in kombinasie met polimere om vashegting op saad en stofvermindering te bewerkstellig nie, staan ons die gevaar dat van hierdie insekdoderregistrasies opgeskort kan word, soos tans die geval in Europa is. Dit sal ʼn groot leemte laat in die plaaslike saadbedryf. Hierdie kombinasie is oor etlike seisoene deeglik getoets en gee in die meeste gevalle uitstekende beheer. In onlangste proewe onder swaar vektordruk is dit bevestig dat dit steeds beter is as by onbehandelde saad. Om die vektordruk te verminder kan dit selfs wenslik wees om die opvolggewasse (koring) ook met hierdie saadbehandelingsprodukte te behandel. Daar moet in gedagte gehou word dat saadbehandeling steeds net een van die gereedskapstukke in die bestuur van MSV is. Daar kan nie alleenlik hierop staatgemaak word om volkome beskerming in uitermatige hoë siekte- en vektordruk te verkry nie. Onder hierdie abnormale toestande moet ʼn kombinasie van bestuurspraktyke gevolg word en is daar soos in enige boerderyrisiko geen absolute waarborg wat deur een oplossing gebied kan word nie.