Agri Kultuur Julie / July 2014 | Page 26

Vrystaat: Boeboe Louw V rystaat Landbou het tydens sy konferensie op 3 April 2014 in Bloemfontein vir Boeboe Louw as jongboer van die Jaar aangewys. Louw boer al vir die afgelope 15 jaar met mielies onder beide droëland en besproeïng, koring besproeïng), lusern, sonneblom, skape en veldbeeste . Hy en sy vrou, Annelize en hul twee kinders bly die laaste drie jaar op die plaas Bloudrif in die Wesselsbron-distrik. Hy tree ook as ‘n spuit- en stroperkontrakteur op en is self vir die bou van al die werktuie wat in sy boerdery gebruik word verantwoordelik. Op ons vraag waarom hy die landbou as beroep gekies het, het hy kort en saaklik geantwoord: “Dit is waarmee ek grootgeword het, dit is my groot liefde!” Volgens Boeboe is daar drie belangrike eienskappe van ‘n suksesvolle boerdery nl:  Om aanpasbaar te wees ten opsigte van veranderlikes  Kontrole van die verskeie fasette van boerdery en om by al die fasette van jou boerdery persoonlik betrokke te wees  Om vooruit te dink en harde werk Volgens Wessel Hattingh, voositter van Vrystaat landbou se Jongboer Komitee en ‘n beoordelaar het Boeboe se goeie verhouding met sy werkers, hom in die besonder opgeval, “Hy het lojale werkers en dit wat op die plaas gedoen word, word die eerste keer reg gedoen.” Boeboe is van mening dat grondhervorming, arbeid en bemarking die drie grootste uitdagings in die landbou is. Hy glo dat dit oorkom kan word deur deel te wees van georganiseerde landbou en ‘n oop verhouding met jou werkers te hê. Vir sover dit bemarking betref, kan die struikelblokke oorkom word deur jou produkkennis te verbeter en op die voorpunt van tegnologie te wees. Volgens Boeboe het ‘n vriend hom vir die Jongboer Kompetisie genomineer. Sy raad aan nuwe toetreders tot die landbou en mede jongboere is op die man af: “Doen deeglik navorsing voordat jy ‘n besluit neem; Kry hulp en raad by kundiges op die onderskeie velde – gaan kyk hoe ander suksesvolle boere dit doen; Kreatiwiteit is onbeperk!” Louw meen jongboere moet nie vergeet dat hulle die volgende geslag boere is wat die land moet voed nie aangesien ‘n positiewe bydrae tot die beeld van die boer in Suid-Afrika is een van die belangrike aspekte waarop jongboere moet fokus binne die land se ekonomiese sektor. Hy beplan groot veranderings vir die boerdey die jaar soos: die uitbreiding van die skaapvertakking om volle kapasiteit te bereik; die verbetering van natuurlike weiveld deur die bekamping van Slangbos en effektiewe bestuur van besproeïngskostes.