Agri Kultuur Julie / July 2014 | Page 22

Wes-Kaap: Jaco du Toit D ie Agri Wes-Kaap/ Santam Landbou Jongboer van die Jaar streekswenner vir 2014, Jaco du Toit van die Meerlust Plase in Sandhills in die Breedevallei distrik is tydens ‘n geselligheid in Durbanville aangewys. Wat die beoordelaars van die kompetisie die meeste beïndruk het, is onder andere Jaco se dinamiese persoonlikheidstipe van sterk leierskap, praktiese navorsingsingesteldheid en sy vermoë om strategiese denke en tegniese veranderinge aan stelsels op die plaas te kombineer sodat dit ‘n groter impak op die volhoubaarheid van sy boerdery kan hê. Met winsgewendheid in die vrugtebedryf voortdurend onder druk, is Jaco se strategie in terme van vooruitgang dus krities. Voorts is die tafeldruifbedryf geweldig arbeidsintensief en Jaco het met die installering van ‘n spesifieke klokstelsel ‘n effektiewer werkerskorps begin vestig tesame met die uitdink van ‘n gebruikersvriendelike skaal vir die weeg van druiwe. Jaco se boerdey wentel om 41ha pitlose tafeldruiwe in die Hexriviervallei. Aangesien daar volgens hom verskeie aspekte is waarop verbeter kan word en elke aspek as ‘n projek hanteer word, vir effektiewer eindresultate, beskou hy homself as ʼn projekbestuurder. Dit bied hom die vryheid om nie in roetine te verval nie, maar ook om as ʼn evalueerder/analiseerder op te tree. Op ons vraag waarom hy landbou as beroep gekies het hy as volg gereageer: “Al is ek reeds die derde geslag in ons onderneming, was ek as seun nie werklik betrokke by die boerdery nie. Ek is aangemoedig om ander belangstellings te ondersoek en my pa het nooit die boerdery as my loopbaankeuse forseer nie. Ek het gekies om wel ʼn Landbou Diploma, te Elsenburg te doen, maar ek het eers na die studies, tydens my eerste jare as jongboer (2000) my passie raakgeloop!” Volgens Jaco is die 3 belangrikste eienskappe van ‘n suksesvolle boerdery die deurlopende meting, evaluering en antisipasie van alle hulpbronne. Regerings beleidveranderings, wêreldmark kragte en ook die omgewing (klimaat), dus alles waaroor die produsent nie beheer het nie, sien hy as die grootste uitdagings. Hy glo dat hierdie uitdagings as geleenthede beskou moet word en deur innoverende denke oorkom kan word. Op ons vraag wie of wat hom gemotiveer het om in te skryf vir die kompetisie was sy antwoord: “My vrou, Margot. Sy glo so baie in my, soms meer as wat ek in myself glo. Ek is die introvert en sy die spontane een en dit forseer my soms uit my gemaksone. Landbou het ook goeie publisiteit nodig. Dit is belangrik om die jeug se belangstelling terug te trek na landbou en die dinamies lewendige aard van landbou oor te dra. Landbou moet gekoester word vir die voortbestaan van die mensdom. Watter raad/wysheid het hy vir mede jongboere of nuwe toetreders tot die landbou? “Die vele aspekte in landbou verseker dat enige passie uitgeleef kan word. Bemarking, fisiologie, biologie, rekeningkunde, statistiek, meganieka, tegnologie,regslui, beleggings en noem maar op. Die voordeel om enige van die beroepsrigtings binne landbou te volg, verseker dat geen 2 dae dieselfde sal wees!” Jaco glo ook daaraan om betrokke te raak by die groter gemeenskap en industrie van jou boerdery vertakking: “Deur te investeer in die gemeenskap en industrie, kan die skep van welvaart, ook die voortbestaan en welvaart van jou onderneming verseker.”