Alfa & Omega
Lukas bring hoop
Almal se verhale eindig nie met hoop nie. Party
mense se hele lewensloop skets eerder wanhoop
as hoop. Tog hou ons almal van die sprokiesverhale
van die prins en die prinses wat mekaar ontmoet en
vir ewig en altyd gelukkig saamleef.
Ons hou van goeie eindes wat vir altyd aanhou,
want ons sien en ervaar genoeg seer en siekte in
hierdie lewe.
Lukas was 'n geleerde man. Vermoedelik was hy
die dokter wat saam met Paulus gereis het. Wat ek
van Lukas hou, is sy doelbewuste keuse om sy
verhaal van Jesus se lewensverloop nie in die lug
te laat hang nie. Hy sluit sy verhaal nie af met 'n
vasgelooptheid nie. Lukas se verhaal eindig met
hierdie vertelling:
Die opstanding van Jesus Christus bring hoop vir
sondaars en mense in vasgeloopte situasies. God
laat sy mense nie in die steek nie, maar dra hulle
deur hulle pyn heen en hef hulle op. Jesus se
hemelvaart neem Hom nie van ons af weg nie,
maar maak die sirkel van versorging groter. Nou is
Hy in die hemel by God waar Hy ons mensheid
verteenwoordig. En Hy het die Gees aan ons
gestuur sodat daar iets van die Godheid in ons kan
wees. Dit is ons hoop. God is by ons, vir ons, in
ons.
Om met hoop te leef is om verder as die aardse
ellendes te kyk tot by die bedoeling van God
met sy mense.
(Uit: Die Gees van 'n Arend – Jannie le Roux)
Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef
en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die
hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe
teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.
Lukas 24:50-53