Agri Kultuur Julie / July 2014 | Page 36

‘n Werkbare alternatief vir Voedselsekerheid? Saamgestel deur Chris Kriel A eroponika is die proses waarvolgens plante verbou kan word in ‘n lug of missproei omgewing sonder die gebruik van grond of ‘n groeimedium. Die woord aeroponika is afgelei van die Griekse woorde airo: lug en ponos: arbeid Aeroponika verskil dus van beide hidroponika, akwaponika en in-vitro (plantweefsel kultuur) verbouing. Anders as hidroponika, wat ‘n vloeibare voedingstofoplossing as groeimedium en essensiële minerale gebruik om plantgroei te bevorder; of akwaponika wat water en visafval benut, word aeroponika sonder ‘n groeimedium bedryf. Aangesien water in aeroponika gebruik word om voedingstowwe toe te dien, word dit soms as ‘n vorm van hidroponika beskryf. Hoekom Aeroponika? Ironies genoeg is die beginsel van aeroponika reeds in die twintigerjare van die vorige eeu ontwikkel. Botanici het waargeneem dat die afwesigheid van grond die groei van plante op menige wyse bevoordeel. Dit was ook makliker om plantgroei in so ‘n sisteem dop te hou. In die 1970’s is hidroponika ook ontwikkel en beide sisteme is aanvanklik in werking gestel. Inderwaarheid is hidroponika ‘n uitvloeisel van aeroponika. Laasgenoemde het in werklikheid eers in 1982 sy debuut gemaak toe ‘n volledige werkende opset in die Disney Epcot Sentrum geinstalleer is. NASA toon ‘n geruime tyd reeds ook intense belangstelling in die gebruik van die stelsel vir die verbouing van gewasse in hul Ruimteprogram. Die proses is eintlik baie eenvoudig en word mooi saamgevat in die diagram hieronder