Alfa & Omega
Wanneer dinge begin skeef loop
Ps. 32:8 – Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat
jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou
hou.
Die lewe is onvoorspelbaar. Vir 'n tyd lank mag alles voorspoedig verloop en alles wat jy aanpak op sukses uitloop. Dan skielik, om geen verklaarbare rede nie, begin alles verkeerd loop. Hoe hard jy ook al probeer, jou mikpunte kan jy nie bereik nie; sukses wat jy verwag het, ontwyk jou gedurig en dit lyk of mislukking jou vooruitloop. Dit mag moeilik wees om dit te aanvaar,
maar die oorsaak daarvan lê binne-in jouself.
Jy mag ontdek dat jou denke van die positiewe na die negatiewe oorgeskakel het; jou gebedslewe mag sy element van vertroue verloor het; kla en murmureer het skielik jou gesindheid teenoor die lewe geword. Jy trek onbewus elke onaangename invloed na jou toe aan.
Wanneer dinge begin skeef loop, is dit tyd dat jy jou by God afsonder. Staak alle klaery en murmerering en gaan die teenwoordigheid van God in nederigheid binne, met die oortuiging dat niks buite Sy beheer is nie. Gee jou by vernuwing aan Hom oor en Hy sal jou uitlei uit die donker
land. Voor sy aangesig sal jy 'n God-geïnspireerde pad vind en dinge sal weer begin reg loop.
Indien jou wêreld dreig om in duie te stort, omsoom dit met gebed om te voorkom dat dit uitrafel. Deur Christus en die Heilige Gees sal God jou die moed en leiding gee in jou verwarring en onsekerheid.
Gee my wysheid, O Here, om op U te wag in gebed en bepeinsing wanneer dinge in my lewe begin skeef loop. Amen
Hy wat op homself vertrou, is verlore; hy wat op God vertrou, kan alle dinge doen.
– Alphonsus Liguori –
(Bron: Elke Môre Nuut – Solly Ozrovech)