Redaksie
Oor bang Hadedasse, Swak Panel Beaters, Vryheid en Politiek
Vroeg vanoggend word ek vir die soveelste keer wakker met die gekerm van ‘n klompie hadedasse wat hier in ons omgewing in ‘n boom, hul tuiste kom maak het - So ‘n regte Afrika geskree; iets wat ek vandag nog ervaar wanneer ek in die dorp kom en van ons volksgenote mekaar oor ‘n afstand van ‘n paar straatblokke hoor skel of familiesake heen en weer uitbasiun. Dis toe dat die gedagte by my opkom dat daar meer in die hadeda se geluid opgesluit lê as wat ek vroeër vermoed het. As ek luister na die geluid as hul soggens gereed maak om uit te gaan vir die dagskof, kort daarna met ‘n kakofoniese geskel begin vlieg en saans by tuiskoms dan nogeens met vele geknars en gekerm hul rusplek en tak vir die nag met ‘n onderlangse gemurmel uitkies, kan ek nie anders as om tot die slotsom te kom dat hulle een vreeslike probleem beleef nie - hulle is ongelooflike beangste wesens!
Het jy al mooi geluister presies wat hulle sê as hulle soggens in formasie oorvlieg en nie kan besluit wie voor moet vlieg nie (is blykbaar selfs bang om leiding te neem). Luister mooi, dan sal jy duidelik hoor hulle skree: “Ek is baaaang, ek is baaang!” Ek is nou nie seker of hul die dag vrees, of dit hoogtevrees en of dit nie net maar opgeboude frustasie is omdat hulle daagliks moet goggas vreet nie. Dit is wel baie duidelik dat hul bevrees moet wees, selfs naby die grond, want die laaste geluid of twee wat hul maak as hulle vir die landing op die grasperk of in boom gereed maak, klink vir my alteveel na ‘n uitgerekte “Baaaaang!” wat een na die ander in die swerm dan ook op sy beurt beaam.
Tog lyk dit ook vir my asof hul meer tevredenheid en minder angs op die grond ervaar, want dan is hulle gewoonlik doodstil – miskien uit vrees vir die onbekende wat enige tyd mag toeslaan, die siekte wat op die middag verwoes of die brullende leeu wat soek ... Dan stap hul rustig van gaatjie tot gaatjie en druk hul lang snawels tot teen die hef in die gat en bring meeste van die tyd ‘n heerlike versnapering uit wat met ‘n ekspert-aksie terug in die keel gegooi word, waarna die proses weer heel van vooraf begin. Vang net een van hulle ‘n skrik, dan vang almal dit en word die opstygingsmaneuver met ‘n hewige vlerkklap en ‘n benoude “Baaang!” weer in ongeorganiseerde, leidinglose vlug omskep waarna die wye wêreld weer moet verneem van hul allesoorheersende angs.
‘n Verdere bewys wat ek kon vind dat selfs die donkerte van die nag ‘n ontsettende vrees onder hulle inboesem, het nou onlangs (tot my spyt), aan die lig gekom. Ek het my motortjie vir die nag onder ‘n groot ou koelteboom parkeer, min wetende dat daar ‘n relatief groot hadeda familie ook die boom as toevlugsoord beset het. Toe ek vroeg die volgende oggend by my ou voertuigie aankom, kon ek sweer dat ‘n ongekwalifiseerde paneelklopper die nag my
voertuigie se kleure wou opknap. Nodeloos om te sê, dit neem my toe sowat ‘n uur om met emmer en lap die hadeda banggeit af te was (met warm water en seep want daarsonder, het die smeersel geen gelyke nie). Ek begryp toe ook vir dat elke keer as hulle snags bang raak, dan laat los hulle gelyk! Volgens vinnige statistiek wat ek op pad werk toe vir myself uitgewerk het die oggend, (dis nou na ek skoongemaak het), was dat die ses van hulle, in een nag ten minste elkeen 12 keer bang was, en as ek die grootte van sommige van die blertse in aanmerking neem, was ‘n hele paar nie net bang nie maar uiters vreesbevange, in angs, ontsenu - noem dit wat jy wil! (Daar is ‘n woord in Afrikaans wat begin met “s” en eindig op “bang” wat dalk die ou sakie die beste beskryf, maar hierdie is ‘n gesinstydskrif).
Is dit nie tyd dat ons ornitoloë dalk bietjie hul navorsing meer sentreer op hadeda angs nie? Miskien kan die supermarkrakke binnekort ‘n pakkie anti-stress lokaas vir die gevogeltes saam met die tuinbou afdeling se produkte aanhou. Altemit kan daar ‘n spesiale sentrum in van ons dorpe en stede geskep word waar spesiale anti-depressiewerkswinkels en beradinggroepe vir beangste Hadedas gehou kan word. Ons kry dan immers deesdae al uilhuise en vlermuishotelle! Ons kan dalk selfs daaraan dink om ‘n beangste Hadeda “aan te neem” soos die gebruik in sommige dieretuine is. Met goeie behandeling en beter begrip, kan ons dan dalk binne ‘n jaar of wat sover kom om ook die reenboogvryheid uit te brei tot insluiting van die hadeda gemeenskap sodat hulle as te ware “voëlvry” sal wees in ‘n demokratiese Suid-Afrika. Politieke vryheid sonder angs is tog waarna ons almal in aanloop na die verkiesing streef. Dalk is die Onbevreedsde Hadeda Alliansie Party ‘n oorweging vir menige kieser in die nabye toekoms?
Groete
Chris Kriel