Agri Kultuur December 2013 | Page 6

Lees Lukas 2

Miskien het jy al die verhaaltjie gehoor van die kindertjies wat by hulle kerk 'n Kersspel opgevoer het. Die outjie wat die herbergier moes speel wat vir Josef-hulle moes sê daar's nie plek in sy herberg nie, het swaar gekry om dit te doen. Die Sondagskooljuffrou het voet by stuk gehou: hy moes vir “Josef en Maria” wegstuur. Die aand tydens die opvoering toe Josef en Maria by die herbergier aankom, het hy verstar gestaan. Uiteindelik sê hy: “Die herberg is vol.” Toe Josef en Maria hangskouers van hom af wegstap, roep hy uit: “Wag, julle kan my slaapkamer kry. Ek sal in my ma-hulle se kamer op die mat slaap!”

Nodeloos om te sê, die hele toneel was ontwrig. Die juffrou was kwaad, en die ander akteurtjies het

nie mooi geweet hoe verder nie. Maar miskien was dit een van die beste Kersopvoerings nog, want die outjie wat die herbergier gespeel het, het iets van Jesus se soort Kersfees gesnap. Hy het besef dat Kersfees regtig oor iets anders, oor Iemand anders gaan. Jesus is die Een wat Kersfees met nuwe inhoud vul. Jesus se presente is nie met helder papier toegedraai nie. Hy bring ook nie sakke vol goedkoop geluk na ons toe nie. Hy verander mense. Hy maak dat selfs die kindertjies hulle kamer wil afstaan aan mense wat nie 'n dak oor hulle kop het nie.

Kersfees is 'n ander soort fees vir mense wat Jesus navolg. Ja, sy mense gee ook presente weg aan diegene wat naby aan hulle is, maar hulle doen meer as dit. Hulle gee ook iets van hulleself weg. Kerstyd is 'n tyd van deernis. Dis 'n tyd wanneer Jesus se volgelinge mense raaksien wat nie kos op hulle tafel het nie en niemand om vir hulle goed te wees nie. Dis die tyd dat sy kinders 'n kruk word vir diegene wat deur die lewe mank geslaan is. Kerstyd is omgeetyd, trane-afdroogtyd, selfgeetyd. Jesus se soort Kersfees maak van sy volgelinge ligte in die donker wêreld. Dit verander God se

kinders in noodhulpwerkers wat stukkies genadebrood – en regte brood – kwistig rondom hulle uitdeel.

Here Jesus, maak ons oë in hierdie Kerstyd oop sodat ons ook die nood van ander sal raaksien en sal voorsien soos U elke dag aan ons voorsien. Amen

(Uit: Aan my Vader se Voete – Stephan Joubert)

Jesus se soort

Kersfees

Geseënde Kersfees!