Agri Kultuur December 2013 | Page 25

Kakamas: Onoorwonne Boere vesting, 1901-1902.

DIT is waarskynlik korrek om te beweer dat Kakamas in die laaste nege maande van die Anglo-Boere-oorlog die enigste dorp in Suid-Afrika was wat tot met die vredesluiting ononderbroke deur 'n Boerekommando beset en beheer was. Trouens, teen die einde van die oorlog was die streek wat vandag as Noord-Kaap bekend staan, feitlik geheel en al onder die effektiewe beheer van die Boere, hoewel daar 'n Britse militêre teenwoordigheid in die dorpe, met die uitsondering van Kakamas, was.

Hierdie rebelle was blykbaar moeilike manne.

Hulle het nie net geesdriftig aan sowel die eerste as die tweede opstand in die Kaapkolonie meegedoen nie. Hulle het ook in die bestek van enkele maande in 1901 twee kommandante in die pad gesteek, nadat hulle leierskap onder die lood nie vir die kommando goed genoeg was nie. Een van hulle was die befaamde Edwin Conroy.

Republikeinse soldate het Kakamas op 25 Februarie 1900 bereik.

Ná 'n vergadering in die huis van Jan Redelinghuis (naby die huidige Hoërskool Martin Oosthuizen) is die Vierkleur by die polisiekantoor (destyds 'n ent wes van die huidige spoorwegstasie) gehys. Elias en Piet Nel het leiding geneem met die werwing van burgers en die organisasie van die kommando.

Ná die val van Paardeberg en die ontsetting van Kimberley vroeg in 1900 het generaal Christiaan de Wet die republikeinse manskappe uit die Noordwes-Kaap teruggeroep. Die rebelle wat deur hulle gewerf was, is hoog en droog gelaat. Die ontnugtering was groot en hulle moes die gevolge van hul rebellie dra.

In Maart 1901 het Kakamas by die tweede Kaapse opstand ingeval, nog voordat Manie Maritz uit Oos-Kaap deur generaal Wynand Malan afgevaardig is om rebelle groepe in die Boesmanland te organiseer. Van die eerstes wat aangesluit het, was Jan en Maans Louw, John en Albert van Niekerk, Piet de Vos, Hendrik Scholtz, Jurie Liebenberg, Piet Smit, ene Hanekom, Izak van der Merwe, Sarel Oberholzer, Kootjie Knouwds en Vossie Redelinghuis.

Die eerste skermutseling het einde Maart by Putsies plaasgevind waar die Britte met een gewonde soldaat op die vlug geslaan het. Kleiner skermutselings het sonder veel welslae by Koegab en Aggenys plaasgevind. Deur Froneman se toedoen het die geveg by Aggenys skeef geloop. Hy is van sy amp onthef en Jan Louw is in sy plek gekies.

Jan Louw het in Mei 1901 teruggetree ten gunste van kommandant Edwin Conroy, 'n rebel van Britstown, wat met 'n aanstellingsbrief van generaal J.B.M. Hertzog by die kommando aangekom het. Conroy het eers by Maritz op Brandvlei aangedoen waar die twee byna lelik vasgesit het.

Kort ná die aankoms van Conroy is besluit om Kenhardt aan te val. Op pad daarheen is verneem van 'n aantal Border Scouts (bruin soldate onder Britse offisiere) by Narugas. Conroy het teen die advies van sy onderoffisiere besluit om Narugas op 23 Mei 1901 met 30 man aan te val. Hy het nie met die skietkuns en veldkennis van die bruinmense rekening gehou nie, en hulle het hul rieme lelik styfgeloop. Die Border Scouts het ongedeerd uit die geveg gekom, maar nege rebelle het gesterf en talle is gewond.

Die gewonde Liebenberg en Minnie is ná die geveg op die slagveld deur lede van die Border Scouts doodgeskiet. Willem Nel het ook gewond bly lê. Hy het verskeie nabyskote oorleef, en is vir dood laat lê. Vyftig jaar later het hy nog sy verhaal aan H.N. Kotzé vertel.

Twee kommando lede wat by Narugas gevange geneem is, H.L. Jacobs en A.C. Jooste, is in Kenhardt deur 'n krygsraad aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Hulle is op 24 Julie 1901 deur 'n vuurpeloton in Kenhardt tereggestel.

Kmdt. Conroy het ná hierdie nederlaag besluit om met sy kommando na die Transvaal te gaan. Enkeles het egter besluit om liewer die wapen neer te lê, terwyl 'n klompie eers hul gesinne na veiligheid in (Duits) Suidwes-Afrika geneem het. Uiteindelik het die kommando ná swaar gevegte naby Upington, tot in die omgewing van Griekwastad gevorder. Hier het die kommando besluit om Conroy te ontslaan en terug te keer huis toe weer onder aanvoering van Jan Louw. Nie net was daar gerugte dat Conroy in die geveg by Narugas uit vrees in 'n erdvarkgat geskuil het nie, maar hy het ook sy manskappe met die sambok geslaan of laat slaan.

Die kommando het Kakamas weer in Oktober 1901 bereik. Hulle het toe vasgestel dat 'n klein Britse mag Kakamas in hul afwesigheid besoek het, en dat voorrade opgekommandeer is. Sover bekend, was dit die enigste keer dat 'n Britse mag in Kakamas was. Hierna was die vernaamste doel blykbaar om Kakamas teen 'n tweede besetting en in die algemeen teen die uitwerking van krygswet, wat op 9 Oktober 1901 in die hele Kaapkolonie afgekondig is, te beskerm. Hierin het die kommando behoorlik geslaag.

Die kommando het hom besig gehou met strooptogte op Britse konvooie en tromp-op-botsings vermy. Nietemin het die kommando op 26 Oktober 1901 by Keimoes in 'n geveg betrokke geraak. Twee lede het gesneuwel, en sowel die Kakamas-kommando as die Britse mag het die nag ná die geveg gevlug.

Teen Januarie 1902 was dit duidelik dat 'n aanval op Kakamas beplan was. 'n Britse mag van sowat 800 man onder kolonel Ramsbottom en kaptein Coffee het Kakamas op Vrydag 10 Januarie 1902 uit die suide genader. Hoewel die aanval te wagte was, is die kommando onverhoeds betrap. Kakamas is deur slegs 81 man verdedig, van wie 25 met tuisverlof was.

Veldkornet Albert Stadler het op Saterdag 11 Januarie van die Britse aanval te hore gekom deur twee Border Scouts wat gevang is. Hy het 14 man bymekaar geskraap en met die Britse mag by Swartpad slaags geraak. Willem Gresse is gestuur om die res van die kommando by Brabees te gaan waarsku.

Stadler en sy manne het al vegtende teruggeval na Omkyk waar hulle hul in die koppies verskans het. Teen 10:00 die oggend het kmdt. Louw met die res van die kommando opgedaag en hulle drie- en viergewyse al op die rantjies van Omkyk af tot by Letterkop, suid van Kakamas 'n afstand van verskeie kilometers ontplooi.

Deur die gevegslinie uit te brei en die rante te beset, wou Louw die Britse mag mislei ten opsigte van die kommando se sterkte en terselfdertyd die voordeel van kruisvuur kry. Hierin het hulle inderdaad tot groot nadeel van die Britse mag goed geslaag .

Die Saterdag namiddag het 'n dertigtal van die Britse mag die wesflank van die kommando probeer omseil, maar is deur Dirk Brand en nog ses man teruggedryf. In die nag het die Britse mag daarin geslaag om naby Omkyk op die oosflank deur die Hartbeesrivier te kom en Hendrik Scholtz uit sy posisie gedryf. Toe was hulle tussen die wydverspreide punte van die kommando se linie, en 'n paar lede het ternouernood ontkom.

Op Sondagoggend 12 Januarie is die rebelle in die koppies agter Omkyk se opstal bestorm. Bitter min aanvallers het die geweervuur van die goedverskanste Boere ontkom en nagenoeg 20 man het gesneuwel.

Teen Sondag namiddag wou sommige van die kommando lede die posisies ontruim, maar veral Albert Stadler het beswaar gemaak en almal het die Sondagnag op hul plekke gebly. Maandagoggend het dit duidelik geword dat die Britse mag die aftog geblaas het en na Kenhardt uitgewyk het. Die Kakamas-kommando het hulle agterna gesit en enkele skermutselings met die agterhoede gehad. Slegs drie rebelle is in die tweedaagse geveg lig gewond: Maans Karsten, Piet Adams en Piet Smit.

Kort hierna het generaal Jan Smuts uit die Boesmanland met 25 man Kakamas vir 14 dae besoek en gehelp om die kommando te organiseer en te bemoedig.

In opdrag van Smuts het kmdt. Willie Steyn (beroemd vanweë sy ontsnapping van krygsgevangene skip in Colombo) met 50 man van die kommando vervolgens 'n tog na Rietfontein in die Kalahari onderneem. Daar het hulle slaags geraak met 'n gewapende mag onder aanvoering van kapt. David Philander, wat self in die geveg gesneuwel het. Die doel van die tog was om by die grens van Suidwes-Afrika (Namibië) radio toerusting, wat deur die Transvaalse regering uit Duitsland bestel was, in ontvangs te neem. Hierdie toerusting is na Kakamas geneem en is ná die oorlog deur Albert Stadler uitmekaar gehaal en die onderdele vir allerlei doeleindes gebruik.

Op pad terug was hulle in gevegte by Abeam en weer by Keimoes betrokke. In Keimoes het hulle baie vee gebuit. Kort daarna is die vrede gesluit, terwyl die kommando hom by Friersdale bevind het. Uiteindelik moes hulle die wapen in Kenhardt neerlê.

Vir Kakamas het die oorlog ontwrigting meegebring. Die besproeiingskema se ontwikkeling is vertraag, en die stigting van 'n skool is met etlike jare uitgestel. Eerw. Schroeder, die dryfkrag agter die besproeiingskema, moes tronkstraf op klagte van hoogverraad uitdien, en met sy terugkeer aan die einde van 1902 was hy 'n gebroke man.

Op 'n wyer front was daar verbittering omdat die Transvaalse en Vrystaatse onderhandelaars by Vereeniging die rebelle aan hulle lot oorgelaat het. Miskien van selfs groter belang was die nalatenskap van swak intergroepverhoudings.

Die oorlog het 'n verdeling tussen die bruin en wit bevolkings van die Noordwestelike Kaapkolonie geaksentueer wat gespruit het uit verhoudinge wat toe reeds gespanne was.

Op burgerlike gebied is dit alom bekend dat die militêre owerheid onder krygswet 'n skrikbewind teen die Afrikaanssprekende blankes van die Kaapkolonie gevoer het. Dit het tot groot verontwaardiging gelei, en verhoudinge het nog 'n knou gekry omdat die Britse militêre mag sedert Mei 1900 in hierdie geweste meestal uit bruinmense bestaan het. Dit het ook tot die grootskaalse opstand in die Noordwes-Kaap in 1901 bygedra.

In die Boesmanland, Namakwaland en Gordonia-distrik het die rebelle in 1901-1902 op militêre gebied te staan gekom teen Britse magte wat sowat 1 800 bruinmense onder die wapen ingesluit het, naamlik die Namaqualand Scouts, Bushmanland Borderers en die Border Scouts deurgaans onder bevel van Engelse offisiere. Die oorlog het dimensies van 'n burgeroorlog met rasse-ondertone verkry. Dit het vir baie dekades daarna nog 'n negatiewe uitwerking gehad.