Agri Kultuur December 2013 | Page 4

Redaksie

Glen Seiler

Waarheen is die tyd? As Desember net nog 'n ekstra week gehad het...

Die winkels loop al weer oor van al die mooi goed, duur goed, onnodige goed, geskenkgoed, Kersgoed. En ons land se mense koop – met oorgawe.

Ek verwonder my jaarliks aan hoe mense hul trollies volpak. Televisiestelle, dekodeerders, musieksentrums, stofsuiers, wasmasjiene, stowe, skottelgoedwassers agter op die

bakkie. Vir die kinders die nuutste gier – skopfietse, skaatsplanke, televisiespeletjies (noem mens dit nog so?), fietse.

In oorvloed. Dit is vir talle Suid-Afrikaners bonusmaand, en as mens hoor wat sommige mense per maand verdien (dit wat ander skaars in 'n jaar kry) kan mens verstaan hoekom

die beursies so boepens staan.

En op Kersdag eet ons mos asof ons nooit weer gaan eet nie. Dan is tyd vir 'n feesmaal uit die boeke – vyf of ses soorte vleise, bakke vol slaaie wat selfs 'n groep honger koshuisseuns nie eens opgeët sal kan kry nie. En dan namiddag word die bakke en bakke nagereg uitgedra. En ons moet van elkeen eet! Lekker!

Ek kan nie anders as om te dink aan diegene wat swaarkry nie. Veral gedurende die feestyd. Kinders verstaan nie altyd dat daar nie geld is nie. Maatjies kry groot geskenke en gaan

see toe.

Miskien moet elkeen van ons net een ding uit ons kaste gaan haal hierdie Kersfees en dit vir iemand gee wat dit nodiger het. Of sommer 'n klein geskenkie koop vir die tannie in die ouetehuis wie se kinders dalk ver woon! Ons het so baie...en gee so min.

Net vandag gaan ek my kinders se kaste uitpak en al die speelgoed en klere uithaal wat nie meer gebruik word nie. Ek gaan dit weggee... en iemand se Kersfees ook probeer spesiaal maak.

God se genade vir ons is genoeg. As ons terugkyk op die jaar kan ons net dankie sê vir al die seëninge wat ons ontvang het. Ook in die landbou het daar baie dinge die afgelope jaar gebeur. Ons het droogtes gesien en vloede veral in ons streek wat groot skade berokken het. Vleispryse het gestyg, graanpryse het steeds gewissel na gelang van wêreldmarkte se bewegings. Daar was uitsprake – positief en negatief.

Ons beplan nog baie opwindende dinge vir die tydskrif, maar soos die jaar vorder, sal ons dit aan ons lesers bekendstel.

Baie dankie vir elke vriendelike boodskape wat ons ontvang het met elke uitgawe. Dit is verblydend om te hoor dat ons lesers van die idee hou wat beteken ons is op die regte pad. Stuur asseblief ook die e-pos met die tydskrif aan sodat ons die lesertal op só maklike manier kan verhoog.

Vir eers is dit totsiens. Mag elkeen van u 'n Geseënde Kersfees saam met u gesinne en vriende vier. 'n Wonderlike en Voorspoedige Nuwe Jaar word u toegewens.

Kersgroete tot ons weer op 1 Februarie

gesels wanneer Agri Kultuur verskyn.