Agri Kultuur August / Agustus 2016 | Page 54

M ens hoor soms die stelling dat boere nie aftree nie en gevolglik ook nie vir aftrede voorsiening hoef te maak nie. Maar is dit waar? Boere se omstandighede is nie dieselfde nie, en daarom moet elke boer sy eie omstandighede in ag neem om oor die geldigheid van hierdie stelling te besin. As ’n boer nie kinders het wat sy boerdery een of ander tyd gaan oorneem nie, sal hy heel waarskynlik besef dat sy gesondheid en/of afnemende lewenskrag hom iewers in die toekoms gaan noop om op te hou boer. Wat dan? Verhuur of verkoop hy sy plaas? Sal die huur of verkoopprys genoeg wees om in sy finansiële behoeftes te voorsien? Sê nou daar is nie ’n huurder of koper op die tydstip wat die boer gedwing word om af te tree nie? Die boer het dalk ’n kind(ers) wat die boerdery by hom gaan oorneem. In so ’n geval is dit belangrik dat die wyse waarop hierdie oorname plaasvind, behoorlik deurdink word. Verkoop die boer sy plaas aan die kind (ers)? Indien meer as een kind betrokke is, op wie se naam word die plaas oorgedra? Watter belastingimplikasies het hierdie transaksie? Hoe gaan die transaksie gefinansier word? Dalk word die grond nie verkoop nie, maar neem die kind(ers) net die boerdery oor. Hoe werk die vergoeding aan die boer dan? Is daar ’n behoorlike kontrak tussen die boer en sy kind(ers)? Wat is die finansiële implikasies van hierdie transaksie? Sal die inkomste uit die plaas genoeg wees vir die boer, sy kind(ers) en hulle gesin (ne)? Adv. Kobus Engelbrecht Sanlam Besigheidsmark Uit bogenoemde vrae is dit duidelik dat aftrede en opvolgbeplanning nie iets is wat kort voor die beplande aftrede gou-gou afgehandel kan word nie. Dit moet lank voor die tyd beplan word. Op dié wyse word verseker dat die regte strukture opgerig word, die nuwe boer toegerus word met die regte vaardighede en dat daar genoeg fondse beskikbaar is om aan die afgetrede boer ’n inkomste tydens sy aftrede te verskaf. Die toekoms in onseker. Huurders en kopers by aftrede, of finansiering vir die boer se kinders om die plaas te koop, is dalk nie beskikbaar nie. Boere kan hierdie onsekerhede vermy deur so vroeg as moontlik vir hulle spesifieke omstandighede te begin beplan en dan daardie planne in werking te stel. As ’n mens in ag neem dat die oordrag van die boerdery van een geslag na die volgende verreikende gevolge vir die hele familie inhou, is dit ’n aangeleentheid wat met groot sorg aangepak moet word. Heel moontlik beskik die boer en sy familie nie oor die kundigheid om alle vrae te beantwoord nie. Raadpleeg gerus kundige mense, maar onthou – dis jou rykdom en jou familie se toekoms wat hier ter sprake is, en daarom rus die finale verantwoordelikheid op jou. Telefoon: 0860100539 Epos: [email protected] Web:www.sanlamsme.co.za