Agri Kultuur August / Agustus 2016 | Page 31

geen vog in die ondergrond nie . Daar was dus nie reserwes opgebou om ‘ n bydrae te kan maak in die vroeë deel van die seisoen nie . Met die laer oes in 2015 is ook minder oesreste op die grond agter gelaat . Met hierdie agtergrond skets ons ‘ n paar scenarios hoe sekere besluite in die huidige seisoen op koring produksie kan impakteer .
Met goeie reënbuie tydens Paasnaweek ( 25-27 Maart ) en kort daarna , kon ons onmiddellik begin koring plant , alhoewel dit baie vroeg was . Daar was genoegsame vog om die koring te laat ontkiem . ‘ n Droë en warm Mei ( Langgewens het net 0,5mm ontvang ) sou die plante onder stremming plaas , wat in baie gevalle die groeisiklus van die gewas verkort ( dae tot aarverskyning ). As daar ondergrondse vog was sou die effek minder drasties gewees het en ‘ n goeie bedekking bo-op die grond sou ook kon help met vogbewaring oor ‘ n langer tydperk . Sommige van die kampe wat so vroeg geplant was , het in die aar gekom a . g . v . warm dae tesame met min grondvog , met die gevolg dat daar nie ‘ n goeie oes sal realiseer op so ‘ n kamp nie .
‘ n Tweede opsie sou wees om te wag totdat onkruid ontkiem het , dit te spuit en daarna te plant . Hoe langer mens besluit om te wag voor die spuitaksie , hoe meer vog word onttrek deur die onkruid . As ons te lank wag en te veel vog verloor het , sou dit onewe opkoms van die koring veroorsaak het . Sommige pitte val in natter dele en ontkiem dan vinniger as ander . Koppel nou die onegalige opkoms met ‘ n droë Mei soos wat hierdie jaar gebeur het , en jy sit weer met jou hande in jou hare . Ook in hierdie geval kon ’ n goeie bogrondse bedekking deur oesreste ‘ n verskil gemaak het . Alhoewel so ‘ n onegalige stand wel nog ‘ n oes kan lewer , afhangende van die res van die seisoen , sal dit ook lei tot ‘ n onegalige opbrengs potensiaal . Jy gaan opbrengs inboet , en onkruid en siekte bestuur sal moeilik wees .
‘ n Derde moontlikheid sou wees om in die laaste deel van Mei eers te begin plant het . Die grond sou dan redelik droog gewees het , wat beteken dat die saad nie sou ontkiem het nie . Dit blyk egter ook ‘ n risiko te wees as daar nie reën daarna kom nie , want dit is ‘ n hele paar Rand ( saad en kunsmis ) wat in die grond lê en wag . In hierdie scenario vanjaar het daar sover in Junie en Julie , goeie reën geval wat beteken dat die koring mooi egalig opgekom het .
Dit is egter nie die einde van die storie nie . Wat kan gebeur met die
2016 koringoes in die Swartland na gelang van die res van die seisoen ? Veronderstel ons het opsie 1 en 2 geneem . Ons het ons koring opgekry en het die droë Mei oorleef . Met die goeie reën in Junie en Julie kan ons nog steeds ‘ n redelike oes afhaal as Augustus ook nat en koud is en September koel bly vir so lank as moontlik . Sodoende word die groeiseisoen verleng wat ons ‘ n beter kans sal gee om ‘ n gemiddelde oes of net onder gemiddelde oes af te haal . As Augustus en September egter droog of droog en warm is , sal ons verseker ‘ n swakker opbrengs verwag .
Indien ons opsie 3 uitgeoefen het , sal ons saailinge baie mooi gelyk het , maar sal hulle baie klein wees en stadig groei as gevolg van die koue en nat weer in Junie en Julie . As ons ‘ n normale Swartland seisoen van hier af ervaar sal die vog afsny in September en sal die groeiseisoen te kort wees om ‘ n goeie oes te lewer . Vir opsie 3 om ‘ n gemiddelde oes te lewer sal Augustus en September koel en nat moet wees .
Boer is nie vir sussies nie ! 2016 opbrengste behoort beter te wees as in 2015 , ons hou maar die weer dop .
johannst @ elsenburg . com