Agri Kultuur August 2014 | Page 8

Wedstrydplan vir jou boerdery

Het jy ‘n wedstrydplan vir jou boerdery?

Kom ontmoet op 17 en 18 September vanjaar vir Dawie Roodt en Victor Matfield van Efficient Group by die Agri Mega Week op Bredasdorp.

BKB en Efficient Advise, wat vroeër vanjaar hul nuwe vennootskap in die Vrystaat en Oos-Kaap bekendgestel het, deel ‘n stalletjie tydens die 21ste Agri Mega Week om Wes-Kaapse boere ook die geleentheid te bied om met hulle kundiges en finansiële adviseurs te kom gesels.

“Boerdery is ʼn komplekse bedryf en boere behoort soveel moontlik van kenners gebruik te maak ten einde hulle in staat te stel om op hul boerdery te konsentreer,” sê Dawie Roodt, Hoofekonoom van die Efficient Group. “‘n Boer sonder ‘n finansiële beplanner is soos ‘n skip sonder ‘n kaptein, op ‘n stormagtige see!”

Boere moet deurgaans strategies dink en beplan, sterk en swak punte identifiseer en bedreigings en geleenthede bestuur sodat daar effektief opgetree kan word om die langtermyn oorlewing van hulle besighede te verseker. Enige plan is egter slegs doeltreffend wanneer dit daadwerklike doelwitte, tydraamwerke en implementasieriglyne het, en boonop gereeld hersien word.

BKB en Efficient het vroeër vanjaar kragte saamgesnoer om aan BKB kliënte ʼn wyer finansiële dienste-oplossing te bied deur Efficient Advise, die Efficient Group se finansiële beplanning en adviesfiliaal. Efficient Advise beskik oor ʼn landswye netwerk van gekwalifiseerde adviseurs om finansiële oplossings te bied vir die behoeftes van boere en agri-besighede.

Benewens die tipiese finansiële ondersteuning wat Efficient Advise adviseurs aan boere bied met betrekking tot boedelbeplanning, die opstel en instandhouding van testamente en trusts, die optimale strukturering van belasting, beleggingsbestuur en aftredebeplanning, kan boere wat vir hulle werkers sekere werknemersvoordele wil bied ook by Efficient Advise aanklop.

BKB AgriFin bied produksie-insette, tegniese ondersteuning, doeltreffende vervoer en finansiering aan. “Sonder toegang tot ‘n reeks finansiële dienste wat die behoefte van boere doeltreffend aanspreek, kan die landbousektor nie suksesvol voortbestaan nie,” sê Cobus Oberholster, hoof van AgriFin.

Oberholster se navorsing het getoon dat boere in Suid-Afrika tans ‘n gesamentlike skuldlas van R102 miljard het, ‘n dramatiese toename vanaf R57.4 miljard in 2008. “Dit beklemtoon landbou se behoefte aan finansiering ten einde die doelwit om voedselproduksie teen 2050 met 70 persent te laat toeneem,” sê hy.

Dit beteken egter ook dat boere hul boerdery en bates deeglik moet bestuur ten einde die skuld-vergunning optimaal te benut. BKB AgriFin, wat onstaan het uit BKB se betrokkenheid by kliënte se waardeketting, fokus op die verskaffing van innoverende finansiële produkte en oplossings. Die dienste sluit onder meer produksielenings, kredietlyn-fasiliteite en handelsfinansiering in.

Kom ontmoet Dawie Roodt en Victor Matfield van Efficient Groep op 17 en 18 September by BKB se uitstalling in Mega Park, Bredasdorp en luister na Efficient se besprekingsessie met die titel “Jou finansiële wedstrydplan,” met Dawie Roodt, Victor Matfield, Willem Basson en Nico Burger.

BKB se Cobus Oberholster en Jacobus le Roux, hoofbestuurder: Korporatiewe Bemarking en Openbare Betrekkinge, sal ook by die stalletjie inligting oor BKB se uitgebreide reeks dienste verskaf.

Vir verdere inligting of om ʼn afspraak met ʼn Efficient Advise finansiële adviseur of BKB se personeel te maak, besoek hulle gerus by die Agri Mega Week, of kyk op ons webwerf www.bkb.co.za

Victor, Dawie en Pete aanbieding

Wolf en Victor